
Toestande
tot Donderdag lyk uiters gevaarlik, maar toestande is tot 25 Junie baie
gevaarlik om skape en bokke te skeer, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike
landbouweerkundige, aan boere wat van plan is om hul kleinvee te skeer.
“Die tyd tot 16 Junie lyk veral uiters gevaarlik, met tot 10 mm of meer reën wat oor die noordelike dele van die Oos-Kaap soos Lady Grey en Barkly-Oos moontlik is. Baie sterk winde en uiters koue toestande van benede -5°C is moontlik.”
Hy sê die volgende riskante tydperk is van Sondag tot Vrydag (19 tot 24 Junie), wanneer meer reën verwag word wat selfs oor die res van die Vrystaat, die hele Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan voorkom. “Dit kan gepaard gaan met sneeu, baie winderige toestande en tot 20 mm reën. Dit is dus uiters belangrik dat veeboere spesiale voorsorg moet tref om nie te veel kwesbare vee buite in die veld sonder beskutting te hê nie.”
Van den Berg sê volgens weermodelle word minder reën en minder ontwrigtende koue toestande van 25 Junie tot Julie voorspel, wat dus ’n minder riskante tyd vir skeer kan wees.
Dit is egter altyd baie belangrik dat veeboere, en veral kleinveeboere, weerstoestande op kort termyn dophou vir enige skielike veranderinge wat kan voorkom sodat hulle kan toesien dat hul vee voldoende beskut is.
Hoekom in die winter skeer?
Die vraag is altyd hoekom wol- en bokhaarboere juis in die winter wil skeer wanneer dit baie koud is. Van den Berg verduidelik die antwoord daarin lê dat wolgehalte die beste, en dus sonder swak plekke in die wolvesel, aan die einde van die somer se groeitydperk is.
“Indien daar byvoorbeeld in die somer geskeer word, is daar ’n swak plek of onegalige groei as gevolg van die winter se koue en dikwels swakker weiding. Wolvesels breek dan makliker in die middel. Die swak plek in die vesel van winterskeersels is op die punte van die vesels, met gevolglik beter gehalte.”
Baie wolproduksie in Suid-Afrika vind juis plaas in die kouer dele van die land, soos die Oos-Kaap, Suid-Vrystaat en op die Hoëveld rondom Ermelo en Amersfoort en aangrensende distrikte, asook dele van die Suid-Kaap, omdat veral die somerweidings geskik is vir goeie wolproduksie. Baie ekstreme toestande, soos in die Kalahari waar baie warm en droë toestande voorkom, is minder geskik hiervoor.