Die Suid-Afrikaanse Weerdiens glo daar is ’n sterk moontlikheid van ’n swak La Niña-toestand wat matige reën tot voordeel van landbouproduksie kan beteken. Volgens die voorspelling kan die swak La Niña vir die res van 2022 voortduur en vroeg in 2023 tot ’n neutrale vlak terugkeer.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, beskou dit as ’n ietwat gerusstellende voorspelling wat dui op bogemiddelde reënval, maar binne hoeveelhede wat nie tot nadeel van landbouproduksie sal wees nie. Die weerdiens voorspel goeie reënvaltoestande in die vroeë somer (Oktober tot Desember), wat kan voortduur tot die midsomer. Hy wys daarop dat boere in die oostelike dele, wat die Oos-Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap insluit, middel Oktober sal begin met aanplantings.
“Dit is gunstig vir die aanplant van somergrane en oliesade omdat hierdie gewasse goeie vogtoestande nodig het van Oktober af tot Februarie die volgende jaar. Daarna help warmer toestande die gewasse om ’n volwasse stadium te bereik. Dit is ook goeie toestande wat gunstig is vir veeboedery wat van natuurlike weiding afhanklik is.”