
Die Wes-Kaap kan sy vere regskud vir ’n naweek van koue en nat weer met ’n koue front wat van Saterdag af oor die provinsie gaan beweeg. “Die front kan wydverspreid ligte reën tot gevolg hê,” sê mnr. Lehlohonolo Thobela, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Die eerste koue front sal teen Saterdag die Wes-Kaap se kusgebiede bereik en ooswaarts oor die land beweeg. Dit gaan na verwagting teen Maandag reeds oos van die land begin weg beweeg.
Van Maandag af gaan die volgende koue front oor die Wes-Kaap begin beweeg en reën na die suidwestelike dele van die land bring. Dié koue front sal Dinsdag verder oos oor die land beweeg. Teen Woensdag sal dit weer ooswaarts begin wegbeweeg.
Thobela sê daar is nie tans ’n aanduiding van sneeu vir die volgende week tot 10 dae op die land se hooggeleë dele nie.