
Die stelsel sal van Donderdag tot Saterdag na die sentrale binneland beweeg en teen Sondag opklaar.
Afsnylaagdrukstelsels veroorsaak volgens die weerdiens uiterste weersomstandighede in Suid-Afrika, soos swaar reën en vloede. Aangesien dié stelsel stadig beweeg, kan volgehoue reënval oor ’n paar dae tot vloede in die sentrale, suidelike en oostelike gedeeltes van Suid-Afrika lei.
Die reënval wat vandag in die weste van Suid-Afrika begin, sal môre ooswaarts beweeg. Swaarder buie en donderbuie kan môremiddag en -aand oor die Oos-Kaapse binneland voorkom.
Wanneer die afsnylaagdrukstelsel Woensdag ontwikkel, behoort reënval volgens die weerdiens landwyd, buiten vir die Wes-Kaap en weste van die Noord-Kaap, voor te kom. Die buie sal wydverspreid en plek-plek baie swaar wees.
Volgens die weerdiens kan verspreide, erge donderstorms oor die sentrale en suidelike binneland ontwikkel. Weens die bewolkte toestande wat met die stelsel gepaard gaan, kan koeler temperature oor die grootste gedeelte van Suid-Afrika vanaf Woensdag verwag word.
“Aangesien hierdie stelsel na verwagting eers gedurende Woensdag sal ontwikkel, is daar nog onsekerheid oor die tempo waarteen dit sal versterk, asook waar en wanneer erge weer sal voorkom,” lui ’n verklaring deur die weerdiens.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.