
Die weerkantoor monitor die
ontwikkeling van ’n laagdrukstelsel in die suidwestelike deel van die Indiese Oseaankom.
’n Tropiese laagdrukstelsel word geïdentifiseer wanneer dit die vlak van ’n “matige tropiese storm” bereik, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens luidens ’n verklaring. Sulke stelsels word gekenmerk deur windsnelhede van tot 63 km/h.
“Daar is ’n aanduiding dat daar selfs verskeie tropiese laagdrukke in die (Oseaan)kom kan ontwikkel in die volgende paar dae, maar daar is nog baie onsekerheid oor hul presiese ligging, sterkte en (die) spoor (daarvan). Tans hou hierdie laagdruk geen direkte bedreiging vir Suid-Afrika in nie,” sê die weerdiens.
Die weerdiens sê hy hou die situasie fyn dop en sal Suid-Afrikaners gereeld daaroor inlig.
Sonskyn
Intussen sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, die ontwikkeling van dié stelsels is gunstig vir die voorkoms van sonskyn en warmer toestande oor Suid-Afrika in die komende dae.
“Tans ontwikkel daardie stelsel tussen Madagaskar en Mosambiek, en soos wat die weermodelle dit tans voorstel, gaan dit veral die sentrale dele van Mosambiek raak.”
Van den Berg het vroeër die week aan Landbou.com gesê die afgelope paar weke het die Indiese Oseaan noord van Madagaskar begin verwarm, wat veroorsaak dat tropiese laagdrukstelsels ontwikkel. “Dit gaan veroorsaak dat die tropiese vog vanaf Sentraal- en Wes-Afrika minder suidwaarts gaan beweeg en vanaf ongeveer 20 Januarie meer ooswaarts gekonsentreer gaan wees oor Mosambiek en Madagaskar. Minder reën met warmer toestande en baie sonskyn kan dus verwag word oor die grootste deel van Suid-Afrika vanaf ongeveer 20 Januarie tot in die eerste week van Februarie.”Klik hier om meer daaroor te lees.