Mnr. Riaan Strydom, vrugteboer van die Krakeelrivier-omgewing in die Langkloof, sê dit was die afgelope drie maande ongewoon droog en dié Desember-reën was daarom baie welkom. Dit is baie goed vir die appels en pere aan die bome, wat hoofsaaklik vir uitvoer geproduseer word.
Sowat 85% van die appelkose, wat soos ander steenvrugte sensitief is vir reën naby aan die oesdatum, is reeds geoes en die reën het dus nie ’n groot impak nie,
Reën val hier die hele jaar, met die meeste reën wat gewoonlik van Julie tot November voorkom.
“Vanjaar het ons baie min reën van September tot November gehad. Laasjaar September het ons 13 mm gehad, Oktober 90 mm, November 70 mm en Desember 85 mm. Vanjaar se maandelikse reënval vanaf Junie was 80 mm, 27,2 mm, 93,2 mm, 27,1 mm, 12 mm, 13,2 mm en 81,8 mm tot dusver in Desember. So dit was sommer lekker droog voor die afgelope week se reën,” sê Strydom.
Die reën het wyd geval, selfs in die Karoo-omgewings van onder meer Steytlerville en Willowmore.
“Die reën help ons baie want die Langkloof se opgaardamme het vinnig gesak. In die Langkloof het die meeste boere nie genoeg opgaarkapasiteit vir ’n hele seisoen se besproeiing nie. So ons moet opvolgreën mét afloop kry om die damme aan te vul, anders kan die laaste deel van die oeste skade lei.
“Dit is in teenstelling met boere by die Kougadam, wat vir ten minste twee jaar water het as die dam vol is.”
Die meeste van die Kougadam se water kom uit die Langkloof. Die afgelope week se reën was waarskynlik ongelukkig te min om iets aan die lae watervlak van die dam sowat 80 km stroomaf te doen. “Die rivierbed is droog en die gate in die rivier leeg, so dis hoogs onwaarskynlik dat die water die Kougadam sal bereik.”
Beurtkrag bly kopseer
Die welkome reën help ongelukkig nie met die herhaaldelike hoë beurtkragfases nie.
“Beurtkrag is ’n groot kopseer vir enige boer wat besproei. Ons sit tans tot 10 ure per dag sonder krag. As dit warm en droog is, het ons groot probleme om genoegsaam te kan besproei. Ons kan fase 2-beurtkrag nog oorbrug, maar fase 6 is ’n baie groot probleem, veral met oestyd wat van Januarie tot Mei voorlê.
“Ons boer ook met braaikuikens en ons verkoeling kan nie bybly nie, want die kragopwekkers kan nie al die verkoeling aan die gang hou nie, so van die vrieskamers kom nie meer op die regte temperature nie.
“In Januarie, wanneer ons vrugte begin pak, gaan beurtkrag groot nadelige gevolge hê vir sowel verpakking as verkoeling.
“Beurtkrag veroorsaak ’n kettingreaksie, want fabrieke wat produkte soos verpakkingsmateriaal moet vervaardig, kan nie voorbly nie, omdat hulle vir ’n groot deel van die dag tot stilstand kom. Dit kan daartoe lei dat ’n boer met vrugte sit wat nie verpak kan word nie, omdat goed soos kartonhouers dalk nie betyds gelewer gaan kan word nie.”