Volgens onlangse navorsing in die state Kalifornië, Wyoming, Utah, Nevada, Arizona, groot dele van Oregon, Idaho, Nieu-Mexiko, die weste van Colorado, die noorde van Mexiko en die suidweste van Montana en Texas, is dit die ergste droogte sedert die 1500’s.
Navorsers meen klimaatsverandering is besig om in die gebiede uit te speel. Navorsing deur prof. Park Williams, ’n klimaat-hidroloog by die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, en ander toon 42% van die megadroogte kan aan klimaatsverandering toegeskryf word.
Hy en sy kollegas skryf in die vaktydskrif Nature Climate Change dat klimaatsverandering die basislyntoestande na droër toestande in die weste verander.