
Produksietoestande vir wintergrane in die Swartland en Suid-Kaap, wat die Rûensgebied insluit, wissel tot dusver die seisoen van ondergemiddeld tot bogemiddeld, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Gedurende Mei het byvoorbeeld Malmesbury slegs 12 mm gemeet, Porterville 24 mm, Hopefield 11 mm, Riversdal 29 mm, Swellendam 50 mm, en Caledon en Bredasdorp albei 35 mm. Die verwagte reënval vir Mei wissel van 45 mm tot 60 mm.
Gedurende Junie het meer reën voorgekom, met swaar neerslae van plek tot plek. Malmesbury het gedurende Junie 110 mm gekry teenoor die langtermyngemiddelde van ongeveer 75 mm. By Hopefield is 70 mm gemeet teenoor gemiddeld 60 mm, Caledon het 104 mm gemeet teenoor gemiddeld 60 mm en Swellendam het 55 mm gehad teenoor gemiddeld 45 mm.
In die eerste 11 dae van Julie het van die wintergraangebiede minder as 10 mm gemeet. “As in ag geneem word dat Julie een van die drie spitsreënvalmaande saam met Junie en Augustus is en daar van 60 mm tot 100 mm moet voorkom, is die eerste deel van Julie ver ondergemiddeld. Daar is egter nog nie ’n droogtekrisis nie hoofsaaklik as gevolg van die reën middel Junie en die ligte opvolgneerslae. Die belangrike gedeelte wat die wintergraanoes gaan bepaal, is die volgende ses tot tien weke tot einde September,” aldus Van den Berg.
Kort termyn voorspellings
Die volgende is die verwagte kort- tot mediumtermynvoorspellings vir die wintergraangebiede:
Die Swartland. Gereelde ligte neerslae van minder as 5 mm word vir die res van Julie en Augustus voorspel. In die volgende twee weke kan ligte reën verwag word rondom 14, 18, 19, 27 en 28 Julie, asook tydens ten minste vyf tot ses keer in Augustus. Dit sal gepaard gaan met baie bewolkte toestande, veral gedurende Julie. In totaal word sowat 20 mm of minder verwag vir die res van Julie en minder as 25 mm vir Augustus. Hoewel verdamping redelik laag gaan wees in Julie as gevolg van koeler en bewolkte toestande, is verdampingsverliese van 2 mm tot 3 mm moontlik, veral wanneer die dagtemperature bokant 20 °C styg (dit kan meer as 4 mm wees met dagtemperature bokant 30 °C en wanneer daar sterk winde waai). As daar dus ’n eenvoudige waterbalanssom gemaak word, moet daar ten minste 60 mm of meer reën voorkom per maand om die verdampingsverliese aan te vul.
Reserwewater van die reën wat gedurende Junie voorgekom het, kan nog gebruik word, hoewel dit binnekort opgebruik kan word.
“Daar gaan dus ’n netto tekort aan water in die grond begin bestaan in veral die laaste deel van Julie, maar veral Augustus, wanneer die waterverbruik gaan verhoog met hoër temperature en groter plante wat meer water gebruik.”
Die probleem kan in September intenser word met warmer toestande en ondergemiddelde reën wat verwag word. Weermodelle dui tans vir September nie gereelde ligter neerslae soos wat gedurende die res van Julie en in Augustus verwag word nie. Toestande lyk dus ongunstig as die kort- tot mediumtermynvoorspellings in ag geneem word.
Die Rûens en Suid-Kaap. Van den Berg sê toestande lyk minder ongunstig vir veral die Rûensgebied in die Overberg. Na verwagting kan sowat 40 mm nog gedurende Julie voorkom, met ligter neerslae in Augustus. “Dus kan die grondwatertekort hier ietwat minder intens wees in die eerste deel van Augustus, maar droogtetoestande kan begin voorkom gedurende die kritiese reproduktiewe maand van September.”
Oktober
Van den Berg sê langtermynvoorspellings maak hoofsaaklik gebruik van statistiese modelle, dit wil sê; wat het gebeur in soortgelyke jare of gevalle in die geskiedenis, terwyl korttermynvoorspellings gebruik maak van meer dinamiese insette soos werklike temperature, windsnelhede, ens. “Die akkuraatheid van korttermynvoorspellings neem egter drasties af oor ’n paar dae en is baie onbetroubaar vir ’n week of tien dae.”
Volgens die langtermynvoorspellings dui weermodelle aan dat reënvaltoestande oor die winterreën gebied gedurende Oktober kan verbeter, maar dit kan te laat wees vir wintergraanproduksie, want dan begin dit al oestyd word.
Van den Berg sê met die langtermynvoorspellings van ligter neerslae blyk dit die winterreëngebied se damvlakke het dalk reeds ’n spits bereik. “Daar is ’n moontlikheid dat reën in Oktober kan voorkom, maar dis onwaarskynlik dat damvlakke daarby gaan baat vind. Gegewe die natter siklus wat sedert ongeveer 2018 begin voorkom het, lyk dit asof dit nou baie naby aan die draaipunt is om oor te gaan in die volgende droër siklus vir die winterreëngebied.”