Wintergraanboere word aangeraai om so gou moontlik hul aanplantings af te handel, met reënvaltoestande oor dié reënstreek wat van die laaste deel van Junie verbeter.
“Weermodelle toon tans dat gemiddelde tot bogemiddelde reën in Julie en Augustus oor die streek moontlik is,” sê mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige. “Indien daar na die opvolging van natter jare vir die winterreëngebied gekyk word, lyk dit nie asof die droër siklus al begin het nie en behoort die res van die winterreënseisoen ten minste na die langtermyngemiddelde reënval te neig.”
Van den Berg sê die kanse vir die voorkoms van sneeu in veral Junie en Julie is groot, en dit is een van die faktore wat veral kleinveeboere wat wol of bokhaar wil skeer, moet dophou. “Gegewe die kans vir verdere nat toestande tesame met baie koue toestande, lyk die periode tot Junie ook na ’n hoërisiko-tydperk. Dit sal waarskynlik beter wees om nader aan Augustus en September te laat skeer, wanneer dit steeds koud gaan wees, maar moontlik nie so nat nie.” Dit is wel belangrik dat kleinveeboere korttermynvoorspellings noukeurig moet dophou vir hul beplanning.