
’n Bolug-trogstelsel sal volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens teen Vrydag 20 Mei in ’n afsnylaagdrukstelsel oor die noordwestelike binneland ontwikkel. As gevolg daarvan kan wydverspreide reënbuie vanaf Donderdag oor die suidelike en sentrale gedeeltes van Suid-Afrika verwag word.
Ligte sneeuval van 2 cm tot 5 cm word oor die bergagtige, hooggeleë gebiede van die Wes- en Noord-Kaap, en die hooggeleë gebiede van die suidoostelike en oostelike Vrystaat verwag. Swaarder sneeuval van 10 cm tot 20 cm word gedurende die naweek oor die noordoostelike hooggeleë gedeeltes van die Oos-Kaap, die Drakensberg en Lesotho verwag.
Die weerdiens sê die droogtegeteisterde gedeeltes van die Oos-Kaap kan 25 mm tot 35 mm reën verwag. ’n Vlak 2-waarskuwing vir onderbrekende reënval en gelokaliseerde vloede vir die sentrale en suidoostelike gedeeltes van die Oos-Kaap is vir Donderdag uitgereik.
Daar is ’n moontlikheid dat ernstige storms in die sentrale en oostelike binneland kan voorkom wat met sterk winde en groot hoeveelhede hael gepaard kan gaan. Die weerdiens sê waarskuwings sal soos nodig hieroor uitgereik word.
’n Koue front sal vanaf Woensdagmiddag oor die binneland en suidwestelike kus van die Wes-Kaap beweeg en die suidelike kus en aangrensende binneland teen Woensdagaand bereik. Rukwinde van 45 km/h tot 55 km/h kan voor die koue front oor die binneland en suidelike kus van die Wes-Kaap, asook die Noord-Kaapse binneland verwag word.
As gevolg van die sterk wind, asook warm en baie warm toestande wat die koue front voorafgaan, kan die risiko vir veldbrande vererger. Warm en baie warm toestande word veral langs die suidelike kus van die Wes-Kaap en westelike gedeeltes van die Oos-Kaap verwag.
Volgens die weerdiens word donderstorms en sterk rukwinde teen Vrydag oor die sentrale binneland verwag, wat teen Vrydagaand na Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan versprei. Die storms sal Limpopo na verwagting Saterdag bereik. Aangesien grond in KwaZulu-Natal reeds versadig is, waarsku die weerdiens dat enige reënval van meer as 20 mm tot vloede kan lei.
Bitter koue omstandighede sal Donderdag oor die westelike en suidelike gedeeltes van Suid-Afrika beweeg en teen Vrydag en Saterdag na die sentrale en oostelike gedeeltes versprei.
Maksimum temperature in die binneland sal volgens die weerdiens se voorspellings nie meer as 14 °C wees nie, terwyl dit Vrydag en Saterdag skaars 8 °C oor die hooggeleë gedeeltes van die Oos-Kaap, die suidwestelike hooggeleë gedeeltes van KwaZulu-Natal, asook die suidoostelike en suidelikste gedeeltes van die Vrystaat sal wees. Kleinveeboere word gewaarsku om die nodige voorbereidings hiervoor te tref.
Reënerige omstandighede sal Saterdag na verwagting volgens die weerdiens oor die oostelike gedeeltes van Limpopo en Mpumalanga voortduur en Sondag na die noordelike gedeeltes van KwaZulu-Natal versprei. Die gure weer sal teen Maandag opklaar.
* Die weerdiens het Woensdagmiddag (18 Mei) 'n vlak 5-waarskuwing vir die Oos-Kaap uitgereik waarin hulle waarsku dat aansienlike reënbuie en donderstorms Vrydag 20 Mei oor 'n groot gedeelte van die provinsie verwag word. Volgens die waarskuwing kan vloede asook skade aan eiendom en infrastruktuur voorkom. 'n Vlak 4-waarskuwing vir sneeuval van tussen 4 en 15 cm oor die suidelike gedeelte van die Drakensberg is ook uitgereik.