
Ná sewe jaar se droogte en boonop die veilingsverbod vanweë bek-en-klouseer het hulle nie gedink hul veiling op 26 Februarie sal só goed doen nie, sê mnr. Andries Marx.
Dié veiling is die afgelope 29 jaar aangebied, maar daar was onsekerheid of vanjaar se veiling sou plaasvind. Die jaarlikse nasionale veiling, ’n week vroeër, is vanweë die verbod afgestel.
Die familie was verlede jaar een van Landbouweekblad en Voermol se finaliste in die Skaapboer van die Jaar-kompetisie.
Altesaam 20 stoetramme is teen gemiddeld R45 000 verkoop. Dit is, volgens Marx, “beslis ’n rekord”. Die gemiddelde veilingsprys van R21 822 vir ál die diere (waaronder 70 veldramme en 500 kommersiële ooie) is ’n nuwe rekordprys vir ’n produksieveiling op ’n plaas. Die drie duurste ramme is teen puik pryse van onderskeidelik R140 000, R120 000 en R98 000 verkoop.
Mnre. Clark Rattray, Wikus Bekker en Julius Beukes van die Jireh-trust, Edenburg, het saam die duurste ram, Blokman, gekoop. Mnr. Roelf Bredenkamp en vennote van Burgersdorp het die naasduurste ram gekoop.
Die gemiddelde prys vir vroulike diere was soos volg: ooilammers, R1 450; nie-dragtige ooie, R2 100; en dragtige ooie, R2 730.
Marx sê daar was groot belangstelling en 200 mense, onder wie 87 kopers, het die veiling bygewoon. Hy sê sonder die ondersteuning van ’n wolbeampte soos mnr. Jan van der Walt sal die stoetery nie so goed presteer nie.
Die veiling is deur BKB aangebied.