
Die Sagtevrugte-produsentetrust (SPT) doen namens die Suid-Afrikaanse Steenvrugte-produsentevereniging (SASPA) en die Suid-Afrikaanse SA Appel- en Peerprodusentevereniging (SAPPA) aansoek by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye om ‘n nuwe statutêre uitvoerheffing in terme van die wet vir die bemarking van landbouprodukte van 1996 vir steen- en kernvrugte. Pruime is uitgesluit. Dié heffing sal vir gesamentlike verbuikersvoorligting en markontwikkeling gebruik word.
Die sukses wat deur die SPT se bemarkingsveldtog vir Suid-Afrikaanse pruime in Brittanje en die Europese Unie aan die begin van die jaar behaal is, is die motivering vir ander vrugtesoorte se aansoek om ‘n nuwe statutêre heffing, luidens ‘n mediaverklaing van die Nasionale Landboubemarkingsraad.
Die doel is om Suid-Afrikaanse vrugte se internasionale “voetspoor” te vergroot en wêreldwye verkope op te stoot. Die voorgestelde heffings is:
Produk | Heffing op uitvoerkarton | Tydperk |
Appels | R0.35 per 12.5kg karton | Twee jaar |
Pere | R0.35 per 12.5kg karton | Twee jaar |
Kaalperskes | R0.50 per 2.5kg karton | Vier jaar |
Perskes | R0.50 per 2.5kg karton | Vier jaar |
Appelkose | R0.50 per 5kg karton | Vier jaar |
Diegene wat deur die voorgestelde heffing geraak sal word kan kommentaar, op skrif, aan die Landboubemarkingsraad rig. Die kommentaar moet die raad voor of op 6 November 2009 bereik om te verseker dat die raad sy aanbevelings aan die Minister van Landbou kan finaliseer.
Kontak Mathilda van der Walt vir meer inligting by mathilda@namc.co.za of 012 341 1115. Fakse kan na 012 341 1911 gestuur word.
20 Oktober 2009