
Ek het die geleentheid gehad om met die bestuurspan op ‘n plaas in die Christiana-distrik saam te werk om persoonlike en span produktiwiteit te verbeter. Hulle boer met aartappels, beeste, uie en pekanneute.
Maar dit gaan vir hulle oor baie meer as net die produkte. Hulle voeg ook waarde toe tot almal op die plaas deur deurlopend die gehalte van hulle mense te verbeter.
Om dit te kan doen moet daar seker riglyne wees vir watter besluite geneem word om goeie mense en goeie produkte te hê, en ek het hulle daarna gevra. Die antwoord was eintlik baie eenvoudig: “Aartappels is die baas!.”
My interpretasie daarvan: Wanneer ons ‘n besluit moet neem, is daar eintlik net een vraag wat beantwoord moet word: Wat is die beste vir die aartappels? Daarby val ons in.
Waaroor gaan hierdie artikel?
Wat is die “aartappel” vir jou, jou gesin en jou besigheid? Anders gestel, wat is daardie waardes wat jou besluite rig en gedrag beheer? Wat oorweeg jy wanneer jy moet besluit om iets te doen of dit te los?
Sonder so ‘n verwysingspunt is dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, om die beste besluit te neem.
Ek wil jou aanmoedig om ‘n persoonlike missie te ontwikkel wat rigting en sin aan jou lewe sal gee. Dit hoef nie ‘n lang dokument te wees nie – ‘n foto, ‘n gedig, stukkie musiek – enigiets wat vir jou sin maak.
En doen dieselfde vir jou gesin en besigheid. Dit maak besluitneming net soveel makliker.
Hoekom is dit belangrik?
Die krag van ‘n missiestelling word goed geïllustreer deur die volgende voorbeeld. In 1995 het een van die ingenieurs van de Hewlett Packard Industrial Research Labs gesê dat dit hulle missie “to be the best industrial research lab IN the world” hom nie inspireer nie. Hulle het toe net een woord verander en “in” vervang met “for: “To be the best industrial research lab FOR the world”. Net een woord het die aard van hulle besigheid verander.
Dit is die krag van ‘n missiestelling en gepaardgaande waardes. Dit help jou om beter besluite te neem en seker te maak dat alles wat jy doen belyn is met prioriteite – geen meer vermorste energie en tyd nie!
Hoe doen ek dit?
By www.msb.franklincovey.com kan jy missiestellings ontwikkel vir jou, jou gesin en jou span. Die proses is eenvoudig en vinnig. Jy kan ook Google vir “personal mission statement” en ook “persoonlike missie” om voorbeelde te sien.
* Gerrit Cloete is 'n kundige op die gebied van produktiwiteit. Kontak hom by:
gerrit@789.co.za |082 737 3676| www.789.co.za