
Die boekjaar tot 30 Junie het “merkwaardige resultate” vir Afgri, die JSE-genoteerde landboumaatskappy, gelewer. Die maatskappy se wins voor belasting het in dié tydperk met 47 % gestyg, groepswins het met 18 % tot R354 miljoen verbeter van die vorige jaar se R299 miljoen.
“Dis merkwaardige resultate, met die totale wins voor belasting wat met 47 % gestyg het. Dié resultaat is behaal ná die insluiting van ’n verlies van R99 miljoen voor belasting wat voortspruit uit die ‘‘skoonmaak’’ van onderpresterende bedrywighede wat óf van die hand gesit óf beëindig is,” sê Venter.
Die maatskappy se finansiële afdeling het egter ’n moeilike jaar agter die rug, maar is deur die goeie prestasie van sy agri-afdeling ondersteun. Verdienste per aandeel uit voortgesette bedrywighede was 93,8 sent vergeleke met verlede jaar se 89,2 sent. Altesame R868 miljoen is uit bedryfsaktiwiteite verdien vanaf ’n negatiewe R143 miljoen verlede jaar.
Afgri het sy saadeenheid, Farming, Snacks, Citrifruit, Deposite, Cotton van die hand gesit as deel van sy herstrukturering en het sy Laeveld-handelstakke in die afgelope boekjaar gesluit. Vooruitsigte vir die komende jaar sluit ’n ondersoek van moontlikhede in die pluimveebedryf in. Voedselverwerkingsgeleenthede sal ook ondersoek word.
“Ons is tevrede met die soliede resultate en die maatskappy se plasing vir toekomstige groei,” sê Venter.
2 September 2009