
Die Amerikaanse boer, mnr. Russell Hedrick, van die westelike deel van die deelstaat Noord-Carolina, het tydens sy laaste oes gemiddeld 16,8 t/ha op sy plaas behaal waar hy geenbewerkingspraktyke toepas. Op een land van 40 akker (16,28 ha) het hy ’n gemiddeld van 23,16 t/ha geoes. Vir sy kompetisie-inskrywing het hy 28,84 t/ha op 0,541 ha geoes.
Hedrick het met sy opbrengs die 20 jaar oue rekord van 27,75 t/ha (442,14 skepels per akker) verbeter. Mnr. Frances Childs het dié rekord in 2002 opgestel toe hy die eerste mielieprodusent ter wêreld geword wat ’n opbrengs van 400 skepels per akker verbygesteek het.
Hedrick het aan Agweb gesê dat sy rekord-opbrengs eerder toegeskryf word aan die plasing en balans as die hoeveelheid voedingstowwe wat hy toedien. Hedrick is al jare lank besig om die grondgesondheid op sy plaas te verbeter met dekgewasse en ander herlewingslandboupraktyke. Hy is ook die medestigter van Soil Regen, waardeur hy ander boere help om herlewingslandboubeginsels te volg.
Die organiese materiaal in die land waar hy die rekordopbrengs behaal het, het in 2012 op slegs 1,7% gestaan. Hedrick kon egter danksy dekgewasse en kompos die organiese vlakke in Februarie 2022 voor planttyd opstoot tot 8,2% op 15 cm diepte en 6,5% op 15-30 cm diepte. Sodoende kon probleme met vloedskade en grondstrukuur aangepak en die grondstruktuur verander van klei met ’n hoë ysterinhoud tot ’n donkerswart struktuur soos sjokoladekoek.
Kultivar
Die rekord is behaal met die AgVenture 9916-kultivar, wat hy teen 112 776 plante per hektaar in 76 cm-rye geplant het met ’n spasiëring van 10 cm tussen plante. Sy planttyd was in April 2022 en 99% van die pitte het binne 24 uur van mekaar opgekom.
Saadgrootte is vir hom baie belangrik. Hy glo hoe groter die saad, hoe meer energie is beskikbaar vir die plant.
“Die mielieplant is vir die eerste paar dae afhanklik van energie binne die saad totdat sy wortelstelsel gevestig is. Groot maak groot.”
Hy het relatief diep op 7,5 cm tot 9 cm geplant.
Hedrick glo ook daarin om stadiger te plant om te verseker dat die regte saadspasiëring en plantdiepte behaal word.
“Die universiteite se saaddiepte-aanbevelings verskil nie veel van die algemene aanbevelings nie aangesien dit net ’n beginpunt is. Ons plant mielies 2,5 cm tot 4 cm dieper as die boere om ons, omdat ons wil seker maak ons voeg ekstra nodale wortels by om ekstra voedingstowwe en water te kry. Dit dryf ons sukses aan en het vir seker in 2022 gewerk.”
Hy het min probleme met plae ervaar en hy glo dit is weens suikergebruik en ’n hoë Brix-waarde.
Voorbereiding
Bemesting is gedurende die seisoen volgens presisiemetodes toegepas en is gegrond op verskeie grond- en plantweefselmonsters..
Van ongeveer 5 Julie tot die swartlaag-stadium (wanneer die mieliepitte fisiologiese volwassenheid bereik) het hy bykans daagliks of tweedaagliks reën gekry. Hoewel grysblaarvlek en suidelike roes kop uitgesteek het, was die vlakke nie kommerwekkend nie.
Hedrick het onkruid streng onderdruk. By die eerste toediening (burndown) gebruik hy ’n residuele program. Dekgewasreste het onkruid verder onderdruk en daarmee saam is die onkruiddoder Callisto in die V4/V5-stadium toegedien.
Met die mikpunt om meer as 400 skepels per akker te oes, het Hedrick aanvanklik beoog om 51,48 kg stikstof per ha te gebruik, maar het uiteindelik 57 kg/ha gebruik, tesame met 26 kg fosfor, 7,3 kg kalium en 18,4 kg swael. Bykomende boor, sink en ander mikro-elemente is as blaarbedekking met ’n hommeltuig toegedien.
Hedrick is in 2017 aangemoedig deur mnr. Richard Linton, toe dekaan van die Noord-Carolina-staatsuniversiteit se leerskool vir landbou en lewenswetenskappe, se uitdaging aan Noord-Carolina boere om te mik na 400 skepels per akker. Hy het dus in 2017 reeds begin om te beplan vir ’n opbrengs van 425 skepels per akker en wat hulle daarvoor nodig gaan hê.
“Ons probeer om so min as moontlik insette te gebruik en om uitsette te vermeerder. Ons bou die grond en verhoog die voedingstofsiklus en waterhouvermoë.”
Hy sê boere moet nie net staat maak op ’n grondtoets tot op 10 cm of 15 cm nie. “Dieper as 15 cm gaan daar baie in die grond aan.”
Die plasing van bemesting is vir hom belangrik. Hy strooi nie meer kalium nie, maar plaas dit nou meer presies. So gebruik hy bykans die helfte van wat ander boere gebruik.
“Ons maak staat op die grond en die lewende organismes daarin om ons begroting uit te balanseer. Ons bestee $10-$20 per akker op sommige mikro-elemente en hulle het ’n groot impak op ons graanopbrengs en gehalte gehad.”