
Argentinië is die wêreld se grootste uitvoerder van verwerkte sojaboonprodukte en die verwagting was dat die land 41% van die wêreld se oliekoek en 48% van die olie hierdie seisoen sou uitvoer.
Die regering se verklaring maak geen melding van uitvoertariewe nie, maar dit veroorsaak reeds lankal spanning by boere en uitvoerders. Die uitvoerders van oliekoek en olie word reeds met 31% belas en die regering, wat met ’n groot skuldlas sit, sien die belasting op sojaprodukte as ’n belangrike bron van inkomste. Uitvoerders sê die verbod sal veroorsaak dat hul handelsvennote hulle na lande soos Brasilië en Amerika sal wend vir voorraad.
CIARA sê dit is heeltemal teenstrydig met die land se uitvoerbelange. “Behalwe dat dit onwettig is, sal dit buitelandse verdienste beperk en werksgeleenthede in die waardeketting vernietig. Kopers sal verbruik moet verminder of alternatiewe bronne vir invoer kry.”
Volgens die nuusagentskap Reuters geld die verbod vir die uitvoer van die 2021-’22-oes, maar fisieke uitvoer begin eers ná die oestyd oor ’n paar weke. Argentinië het verlede jaar gemiddeld sowat 1,5 miljoen ton oliekoek en 300 000 ton olie per maand uitgevoer. Die prys van oliekoek in Amerika het ná die aankondiging met meer as 2,2% gestyg. Sowat 5 miljoen ton olie en ander neweprodukte is reeds vir uitvoer geregistreer.
“Al die krisisse van die afgelope tyd – van die covid-19-pandemie tot hierdie verbod tot Rusland se inval in Oekraïne – wys vir ons die heel beste beleid is om op langer termyn meer selfvoorsienend te wees wat landbouprodukte betref,“ sê mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA.
Hy het in reaksie op die Argentynse verbod gesê omdat dit spruit uit die dispuut tussen boere en die regering oor uitvoerbelasting is dit moeilik om te voorspel wat die uiteinde gaan wees en hoe lank dit sal voortduur.
“Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar van 358 000 ton tot 463 000 ton sojaboon-oliekoek jaarliks ingevoer. Sowat 95% hiervan het van Argentinië af gekom. Suid-Afrika voer ook olie in, maar nie van Argentinië af nie.”