Die Australiese korporasie vir graannavorsing en -ontwikkeling (GRDC) het ’n projek van AU$12,7 miljoen (sowat R156 miljoen) aangekondig om koringlyne met ’n langer koleoptiel te soek. Koring met ’n lang koleoptiel kan dieper as 10 cm geplant word en dus enige vog wat dieper in die grond gebêre is, beter benut.
Só ’n ontwikkeling kan tot voordeel wees van boere in die Suid-Kaap wat die meeste jare somerreën kry en groot moeite doen om daardie vog te bewaar. Die koleoptiel is die beskermende skede om die uitloopsel wat opkom (die sogenoemde emerging shoot) en eerste blare.
Hoe langer die koleoptiel is, hoe groter is die opkomspotensiaal wanneer koringpitte diep geplant word. Die hoofnavorser van die projek, dr. Greg Rebetzke, ’n plantgenetikus by die Australiese raad vir wetenskaps- en nywerheidsnavorsing (CSIRO), sê die projek is daarop gemik om risiko’s rondom saaityd te verminder en meer buigsaamheid tydens hierdie tydperk toe te laat.