Die paprikabedryf het groot potensiaal
vir dieboere wat bereid is om hulle ten volle daarin te begeef. Iemand
wat egter 'n ander boerderybelang het en hoop om net 'n bietjie paprika vir kontantvloei te plant, kan maklik die vingers verbrand.
In die paprikabedryf is daar baie geld te maak vir die boer wat die regte
afsetgebied het, die regte kultivars plant, die regte praktyke toepas en met
integriteit boer. Só sê dr. Piet Grobler, adjunk-hoofbestuurder van Hygrotech en
'n kenner van paprika.
Die winsgewendste deel van paprika is die oleohars wat vir natuurlike voedselkleursel in veral Europa gebruik word. Die kleurinhoud word met 'n spektrofotometer gemeet en 'n Asta-waarde (American Spice Trade Association) word daaraan gekoppel.
Gewoonlik word 'n Asta-waarde van minstens 200 eenhede vereis. Aanvanklik het plaaslike paprika se kleurinhoud beswaarlik die paal gehaal, terwyl dit deesdae van 250 tot 300 eenhede wissel.
Die poeier-speserymark bied groot afsetmoontlikhede. Na gelang daarvan of die saad en kelkblare ook gemaal word, verskaf dit speserye van verskillende gehalte.
In Suid-Afrika is die bedryf nou sowat 16 jaar oud. Dit het ontstaan nadat produksie in Spanje vanweë virussiektes en arbeidsprobleme begin afneem het en die land ál meer begin invoer het. Paprika is aanvanklik veral in die omgewing van Brits en Thabazimbi verbou, maar die opbrengs was laag, die kleur nie goed genoeg nie en siektes het probleme veroorsaak.
Vroeër is paprika op 2 000 ha tot 3 000 ha gekweek en die opbrengs was gemiddeld 1,5 ton/ha. Kultivarontwikkeling het deur die jare daartoe gelei dat paprika deesdae op 6 000 ha tot 7 000 ha verbou word en die gemiddelde opbrengs is meer as 4 ton/ha. In die res van Suider-Afrika is nog sowat 13 000 ha onder paprika.
Dr. Grobler sê boere moet die volgende in gedagte hou:
- Deur die jare het dit 'n gevestigde bedryf geword, met van die modernste
ekstraksie-aanlegte ter wêreld.
- Suid-Afrika is bekend vir die uitstekende produk wat hier verbou
word.
- Die meeste kultivarontwikkeling in die wêreld word plaaslik gedoen.
- Baie siektedruk veroorsaak goeie teelwerk, waardeur sterk
weerstandbiedende kultivars ontwikkel word.
- Die swak rand veroorsaak dat paprika baie mededingend uitgevoer kan
word.
- Daar is egter ook enkele sake wat die bedryf benadeel:
- Paprika word op teveel plekke geplant waar dit nie gedoen behoort te word
nie.
- Daar is 'n gebrek aan kontinuïteit in die bedryf, wat tot wisselvalligheid
in voorsiening lei.
- Sommige boere bespuit hul plante nie met oorleg nie en dit kan Suid-Afrika
'n slegte naam in die bedryf gee.
Dr. Grobler sê aanvanklik was die paprikabedryf baie wisselvallig. "Hoewel dit winsgewend was, het die onbeheerstheid die bedryf 'n slegte naam gegee. Deesdae is die mark stabieler en ek is opgewonde daaroor. Aanvanklik is tot $40/liter (sowat R400/liter) vir oleohars verdien, waar dit nou sowat $24 (ongeveer R240) en minder per liter is, maar vanweë die swak rand is dit steeds winsgewend.
"Wisselvallige pryse het vroeër veroorsaak dat boere en verwerkers kontrakte aangegaan, maar nie daarby gebly het nie. Dit het die bedryf ontstuimig gemaak. Dit het ook die gevaar geskep dat lande soos Indië en China met die mark kon wegloop."
In Indië en China word oleohars uit swakker brandrissies geëkstraheer. Dit word dan versny met Suid-Afrikaanse paprika om die gehalte te verhoog.
Dr. Grobler sê 'n voordeel van die wisselvallige pryse is dat dit die skape van die bokke geskei het en dat daar nou meer orde is. Een saak wat steeds onsekerheid skep, is die paprikaproduksie in Zimbabwe.
Zimbabwe was vroeër 'n groot uitvoerder, maar vanweë die politieke probleme het die produksie afgeneem. Baie tabakboere wil egter na paprika oorskakel en die huidige omvang van die produksie is onseker.
Om meer geld te maak, moet die opbrengs per oppervlakeenheid verhoog word. Teoreties moet dit moontlik wees om onder beskerming, en met die nodige manipulasie van plante, opbrengste van 20 ton tot 35 ton per hektaar te kan haal.
Dr. Grobler is oortuig dat 15 ton/ha haalbaar is vir paprika wat buite geplant word.
Die twee staatmakers wat steeds die meeste geplant word, goed aangepas is, 'n hoë opbrengs lewer en 'n goeie Asta-waarde het, is Papri King en Papri Queen.
Papri King het vergrote peule, wat 'n hoër opbrengs verseker en het 'n Asta-waarde van sowat 290. In stremmingstoestande is die peule egter geneig om branderig te word en goeie produksiepraktyke is nodig om goeie opbrengste en gehalte te verseker.
Papri Queen is soet, lewer ook 'n hoë opbrengs en het 'n Asta-waarde van 250 tot 280 eenhede. Dit het ook 'n beter weerstand teen siektes soos poeieragtige meeldou en bakteriese vlek as Papri King.
Dr. Grobler sê uit Papri King en Papri Queen is reeds verskeie nuwe seleksies, soos Papri Excell en Papri Supreme, en basters, soos Papri Ace, Benac en Papri Royal, geteel. Papri Royal én Red Ace het Asta-waardes van tot 300.
Die keuse van kultivars het ook verander vanweë aanplantings in nethuise waar nie in groot maat bespuit kan word nie. Meer weerstandbiedende kultivars is nodig en F1-hibriede kan aangeplant word omdat die hoër opbrengs die saadkoste regverdig. Volgens hom is Papri Ace en Papri Royal twee basters wat goed in nethuise vaar. Albei bied ook weerstand teen die tabakmosaïekvirus en Papri Royal teen die aartappel-y-virus.
Hy sê die belangrikste is om te kyk na kultivars wat weerstand bied teen siektes, waarvan bakteriese vlek waarskynlik nou die grootste bedreiging is. Kromnekvirus en die aartappel-y-virus is ook twee siektes wat bykans die hele paprikabedryf in Spanje uitgewis het en ook in dele van Suid-Afrika 'n groot probleem skep.
Daar is reeds kultivars wat weerstand teen kromnekvirus het en sekeres wat weerstand teen die aartappel-y-virus het.
Dr. Grobler se maatskappy is besig met die ontwikkeling van 14 nuwe kultivars waar gekyk word na siekteweerstand, 'n hoë Asta-waarde, 'n hoë opbrengs en 'n hoë kleurverhouding. Die ideaal is om 'n kleurverhouding van tot 1 tussen geel en rooi te verkry. Van die nuwe kultivars se verhouding is reeds by 0,99.
Vir kweekhuisproduksie is kultivars met korter internodes en groter vrugte verkieslik omdat die plante opgelei word. Waar 'n nuwe sytak vorm, ontstaan 'n blom en vrug, en die mikpunt is om kort internodes te hê sodat soveel moontlik vrugte per plant gevorm kan word voor die plant die bokant van die nethuis bereik.
Benewens die teelproses word plante ook chemies deur blaarvoeding gemanipuleer om alle potensiële ogies te laat uitloop en te verhoed dat blomme of vrugte afval. Die middel wat hiervoor ontwikkel is, is 'n hoogs gekonsentreerde mengsel van stikstof en mikro-elemente, bekend as Hygro Boost.
Dr. Grobler se raad aan boere is om op 'n klein en hanteerbare skaal te begin boer en ordelik uit te brei. Voorsiening moet gemaak word vir genoeg ruimte om paprika in die skadu te kan droog. Daar moet ook voortdurend daarna gestreef word om die maksimum opbrengs per plant te kry omdat die saad duur is.
17 Januarie 2003