Drie nuwe mieliebasters wat danksy die Yieldgard®-geen teen stronkboorders bestand is, is deur Pannar ontwikkel en op 'n boeredag by Delmas aan boere bekend gestel.
Hierdie nuwelinge is in die volksmond as Bt-basters bekend, omdat hulle danksy biotegnologie 'n geen het wat sterk weerstand teen hierdie insekplaag bied. Diebetrokke basters is PAN 6314 Bt, PAN 6013 Bt en PAN 6036 Bt.
PAN 6314 Bt ('n geel mielie) word deur mnr. Sydney Bondisio, Pannar se bestuurder vir bemarkingsdienste, as 'n baster met 'n hoë opbrengsvermoë en uitstekende agronomiese eienskappe bestempel. Dit is goed aangepas vir die oostelike produksiestreek en ook geskik vir grond met 'n hoë potensiaal in die westelike streek. Diebaster se goeie weerstand teen kopvrot en staanvermoë behoort dit vir boere aantreklik te maak.
Die wit baster, PAN 6013 Bt, is soortgelyk aan PAN 6479 en PAN 6633, en is vir toestande oor 'n wye gebied aangepas. Dit bied ook goeie weerstand teen kopvrot en het 'n puik staanvermoë.
PAN 6036 Bt, 'n geel mielie, is 'n PAN 6146-tipe. Een van sy goeie eienskappe is sterk meerkoppigheid. Die maatskappy beveel dit aan as hoofaanplanting in die weste en as aanvullende aanplanting in die droër oostelike produksiestreke. Indien blaarsiektes probleme in 'n streek skep, behoort 'n boer egter eerder PAN 6568 en/of PAN 6966 te plant.
PAN 6966 is 'n nuweling onder die "gewone" geelmieliebasters. Dit was die top-baster in die nasionale mieliekultivarproewe wat met behulp van die Landbounavorsingsraad gedoen word. Dit word as 'n baster in die PAN 6568-klas beskryf, met 'n selfs beter opbrengsprestasie. Diebaster is sterk meerkoppig, veral indien die boer lae plantbevolkings in die westelike streke verkies. Dit bied uitstekende weerstand teen blaarsiektes, en toon verdraagsaamheid vir aluminium op suur grond, wat 'n bewys is van die wye gebiedsaanpassing daarvan.
Daar is ook twee nuwe vinnig groeiende basters. PAN 6026 is 'n kort groeiseisoen-baster ('n geel mielie), wat bepaald by die oostelike streke aangepas is, maar ook vir die weste se grond met 'n hoë potensiaal aanbeveel word. Hierdie baster spruit min, is sterk meerkoppig en het 'n goeie staanvermoë. Dit bied ook sterk weerstand teen kopvrot.
Die ander nuweling is PAN 6017, 'n vinnig groeiende witbastermielie, wat wyd aangepas is. Dit is geskik vir die oostelike én westelike produksiegebiede en word vir sowel droëland as besproeiing aanbeveel. Die maatskappy beskryf dit as hoogs mededingend in hierdie groeiklas. Ander eienskappe is goeie staanvermoë en kopvrotweerstand.
Nóg 'n nuwe wit baster, PAN 6939, wat die beste presteerder in die maatskappy se meerjarige mielieproewe was, word vir die oostelike én westelike streke aanbeveel. Dit is sterk meerkoppig, val in die medium groeiseisoenklas en het 'n uitstekende agronomiese balans, soortgelyk aan PAN 6479, maar droog effens stadiger af.
'n Nuwe sonneblombaster met 'n hoë oleïen-inhoud, wat deur voedingkundiges as besonder heilsaam vir die mens se gesondheid bestempel word, tel onder die maatskappy se nuwe sonneblomme.
Diesonneblombaster met 'n hoë oleïen-inhoud is 'n spesialiteitsproduk waarvan die oliesamestelling goed vergelyk met olyfolie. Die oleïensuur-inhoud van dietipe sonneblom is ongeveer 80 %, teenoor die 20 % van gewone sonneblombasters. Gewone sonneblomolie kan slegs drie tot vier keer gebruik word (verhit en afkoel) om kos mee gaar te maak, waarna dit 'n risiko vir menslike gesondheid inhou. Oleïenolie kan verskeie kere gebruik word voordat die gehalte daarvan afneem. Dietipe olie is baie geskik vir die diepbraaibedryf. In Amerika gebruik diebedryf reeds hoofsaaklik oleïenolie. Daar is dus 'n goeie geleentheid vir hierdie tipe olie in die plaaslike diepbraaibedryf.
Indien 'n boer diesoort sonneblom verbou, moet hy vooraf 'n kontrak met 'n olieperser sluit. Diekultivar, PAN 7721, het wit saad, wat help om dit van die gewone soorte te onderskei. Dit help ook om vermenging met ander soorte te voorkom.
Nóg 'n nuwe baster, PAN 7015, is bekend gestel. Dit het 'n baie hoë olie-inhoud en opbrengspotensiaal. Dit is 'n volseisoen-baster met 'n effens langer groeiseisoen as die bekende PAN 7351. Diekultivar word vir alle gebiede aanbeveel waar sonneblomme geplant word. Dit is besonder verdraagsaam teen kopvrot (Sclerotinia).
Daar is ook drie nuwe Roundup Ready-sojakultivars in die Pannar-stal. Diekultivars is bestand teen die onkruiddoder Roundup, wat onkruidbestryding vergemaklik. Ál drie kultivars is in die kort groeiseisoenklas.
PAN 421 RR is 'n plaasvervanger vir PAN 494. Diekultivar groei vinnig en is ideaal vir boere wat koring en sojabone in 'n wisselbouprogram gebruik. Die tweede nuweling is PAN 520 RR, 'n veelsydige kultivar wat vir alle produksiegebiede geskik is. Dit word ook vir geenbewerking aanbeveel. Die ander nuwe kultivar is PAN 522 RR, wat soortgelyk aan PAN 660 is. Dit presteer veral goed in droëlandtoestande en is vir alle produksiegebiede aangepas.
PAN 809 is 'n nuwe langseisoen-sojaboon. Dit is 'n spanmaat vir PAN 854. Dit het 'n beter opbrengspotensiaal en is geskik vir gematigde en warm gebiede. Dit presteer goed in droëland- en besproeiingstoestande.
Twee nuwe droëboonkultivars is bekend gestel. PAN 116 het 'n regop, onbepaalde groeiwyse en is die eerste suikerboon wat groot belofte vir regstreekse meganiese oes inhou. Die sade is groot, met 'n goeie kleur en vorm. Nóg voordele is 'n uitstekende algemene siekteweerstand (insluitend roes en hoekige blaarvlek).
PAN 109 is 'n toppresteerder met goeie weerstand teen siektes, waaronder roes en hoekige blaarvlek. Dit is goed vir alle produksiegebiede aangepas en is 'n goeie keuse vir gebiede soos KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat en Mpumalanga, wat gewoonlik deur siektes geteister word.
Drie nuwe graansorghumbasters het ook aandag geniet. PAN 8806 is in die medium tot kort groeiseisoenklas en het 'n goeie opbrengspotensiaal. Ander eienskappe is goeie dorsbaarheid en graangehalte, kort, egalige plante, goeie staanvermoë en 'n half-oop aar vir maklike insekbestryding.
PAN 8609 is in die medium tot lang groeiseisoenklas. Dit het 'n kort groeiwyse, met 'n egalige voorkoms, goeie staanvermoë, dorsbaarheid en pitgrootte, half-oop aar, 'n hoë opbrengspotensiaal en bestendigheid. PAN 8816 is 'n lang groeier en word aanbeveel vir sy konstante opbrengspotensiaal, goeie weerstand teen blaarsiektes, egalige groeiwyse en goeie skepelgewig, moutgehalte, dorsbaarbeid en staanvermoë.
Onder die intensiewe voergewasse het nóg 'n nuwe een, naamlik Quartet, na vore getree. Dit is 'n opvolger vir die meerjarige raaigras Dobson.
23 Mei 2003