
Die nasionale oesskattingskomitee (NOK) het in sy vierde skatting vir somergewasse van die 2022-seisoen die produksieskatting van sojabone met 44 850 ton (2,38%) tot 1,93 miljoen ton opgestoot. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 925 300 ha en die verwagte opbrengs is 2,09 t/ha.
Ondanks bespiegelinge oor swakker oeste weens baie reën het die NOK die kommersiële mielie-oes onveranderd op 14,72 miljoen ton gelaat. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,61 t/ha is.
Hoewel die geskatte mielie-oes 10% kleiner as die 2021-oes is, is dit steeds aansienlik meer as die tienjaargemiddelde van 12,8 miljoen ton. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 82% van die 2022-oes oplewer.
Die oppervlakte onder witmielies is 1,58 miljoen ha met ’n opbrengs van 4,8 t/ha en vir geelmielies is die oppervlakte 1,05 miljoen ha met ’n opbrengs van 6,8 t/ha. Die produksieskatting van witmielies is nou 7,55 miljoen ton en vir geelmielies 7,18 miljoen ton. Suid-Afrika bly ’n netto uitvoerder met sowat 2 miljoen ton wat uitgevoer sal word in die bemarkingsjaar wat op 1 Mei begin het. Hiervan is 73 800 ton wit- en 97 800 ton geelmielies reeds in die eerste drie weke van die bemarkingsjaar uitgevoer.
Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbousektor word geskat op 378 800 ha, wat ’n toename van 4,38% verteenwoordig teenoor die 362 900 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 667 000 ton, wat 4,80% meer is as die 636 440 ton van die vorige seisoen. Sowat 47% hiervan word in die Oos-Kaap verbou en 22% in KwaZulu-Natal.
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 963 000 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 670 700 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,44 t/ha is. Vir die sonneblom- en sojaboonoeste is dit die tweede grootste op rekord.
Wat ander somergewasse betref, het die NOK die verwagte grondbone-oes onveranderd op 70 400 ton geraam. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 43 400 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,62 t/ha is. Die produksieskatting van sorghum is onveranderd gelaat op 137 220 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 37 200 ha, en die verwagte opbrengs is 3,69 t/ha. In die geval van droëbone is die produksieskatting onveranderd gelaat op 55 995 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 42 900 ha, en die verwagte opbrengs is 1,31 t/ha.