RP Agri (Edms.) Bpk. se groen-op-groen Carbon Bee-kolbespuitingstelsel, ’n nuutjie vir Suid-Afrika, laat boere toe om noukeuriger bespuitings te doen en tot 80% op chemiese uitgawes te bespaar.
Die stelsel kan op enige spuit gemonteer word – van ’n 1 m-motorfietsspuit tot ’n 41 m-selfloper, ongeag die model of vervaardiger van die spuit. Die Carbon Bee-kamerastelsel identifiseer onkruid en plante en bepaal dan volgens die data waar gespuit moet word vir onkruid en waar nie.
Dit is te danke aan 40 algoritmes op meer as 20 gewasse waarop die stelsel ontwikkel is en wat dit moontlik maak om byvoorbeeld alles behalwe die gewas te bespuit. Die stelsel het chlorofilsensors wat jou die opsie gee om aktiewe variërende toediening toe te pas.