
Groot opgewondenheid heers onder die lede van die tegniese werkgroep wat ’n nuwe model vir die liggingsdiffirensiaal bestudeer. “Kom ek sê so, ons het nog nie ’n rede gekry vir hoekom dit nie kan werk nie,” het mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en ’n lid van die tegniese werkgroep, tydens Nampo 2022 aan Landbou.com gesê.
Graan SA het vroeër vanjaar op sy streekvergaderings aangekondig dat die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) die liggingsdifferensiale vir grane in oënskou neem.
Nuwe model
Dit volg ná pogings deur Graan SA om die metodologie vir die bepaling van liggingsdifferensiale vir grane te vernuwe, gegrond op ’n nuwe model wat aanvanklik op sojabone gegrond word. Die navorsing is uitgevoer deur dr. Johann Strauss van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Dis gegrond op vraag en aanbod gegewe die ligging, en neem dus alle punte van verwerking en produksie in ag, ook die impak wat dit op die differensiaal van elke JSE-geregistreerde leweringspunt sal hê.
Deur produksie-inligting en ’n driejaargemiddelde in ag te neem en deur middel van liniêre programmering is die model in staat om liggingsdifferensiale te bereken, waaronder ’n zero-differensiaalgebied, oor verskillende verwerkingspunte.
Volgende stap
Die komitee se laaste vergadering was op 5 Mei. Die volgende stap is om meer inligting oor die proef wat met die model onderneem word, aan die komitee deur te stuur.
Me. Anelisa Matutu, nuwe hoof van die afdeling vir afgeleide kommoditeite by die JSE, sê die syfers wat die proef deur Strauss vir sojabone en sonneblomme opgelewer het, sal aan die tegniese komitee verskaf word. Hulle sal hierna weer vergader om seker te maak dat alle lede van die komitee al die inligting verstaan. “Sodra die tegniese komitee tevrede is, sal ’n besluit geneem word.”
Mnr. Chris Sturgess, ’n konsultant vir die JSE, sê mense wat in die komitee dien, doen dit nie noodwendig as verteenwoordiger van ’n instelling nie. “Dit stel mense in staat om hul eie standpunte en idees te deel, en dit bring waardevolle insette.”
Volgens Matutu is die metodiek van die model om die rand per kilometer tussen die liggings van lewering en die gebruiksareas te optimaliseer. “Ná die proef wil ons sien of die dinamika verander het, of byvoorbeeld die sojapers sy sojabone van buite die zero-differensiaalgebied kry en of die silo’s buite die zero-sone ’n differensiaal trek.”
“Die leweringsproses moet reg wees en die somme moet klop, dis deurslaggewend belangrike faktore,” sê Sturgess.
Sturgess en Matutu meen albei dat daar nie te lank met dié besluit gewag kan word nie. Die finale besluit deur die JSE moet teen Desember geneem word vir die stelsel om in 2024 in werking te kan tree. “As dit nie gebeur nie, kyk ons na dalk eers 2025,” sê Sturgess.
Mathews is baie optimisties oor die inligting wat hulle tot dusver ontvang het. “Ten minste word daar nou iets gedoen om ’n oplossing vir die kwessies rondom die differensiaal te vind.”