
Die wenners van die nasionale mielieprodusentevereniging (NCGA) se jaarlikse opbrengskompetisie in Amerika is gister bekend gemaak. Cutrell, wat sedert 2015 aan die kompetisie deelneem, was al by vorige geleenthede ’n kategorie-wenner, maar hierdie was sy beste opbrengs nog. Hy het aan die nuusdiens DTN gesê hy probeer elke jaar iets nuuts doen met die hoop om telkens ’n bietjie beter te vaar.
Hy het sy saad (Dekalb 66-18) vroeg in April in 30 duim-rye teen 38 000 plante per akker geplant. Hy sê vroeg in die seisoen was omstandighede baie gunstig, maar later was daar ’n droër tydperk waarin hy bekommerd oor die verwagte opbrengs begin raak het. “Ek sal nie sê hulle sou nie meer water kon benut het nie, maar gelukkig was daar genoeg om die plante deur te dra.”
Cutrell het deelgeneem in die klas vir konvensionele droëlandbewerking. Die tweede hoogste opbrengs van 384,8359 skepels/akker (25,88 t/ha) is gelewer deur mnr. Drew Haines van Middletown, Maryland, in die afdeling vir droëland met geenbewerking. Die hoogste opbrengs onder besproeiing en strookbewerking was 357,9817 skepels/akker (24,07 t/ha) van mnr. Miles Peterons van Bertrand, Nebraska.
Die kompetisie word al die afgelope 58 jaar deur die NCGA aangebied. Vanjaar was daar 6 337 inskrywings uit 46 state met 838 verskillende kultivars wat saam ’n gemiddelde opbrengs van 262,7586 skepels/akker (17,67 t/ha) gehad het. Dit is aansienlik hoër as Amerika se geskatte gemiddelde opbrengs van 11,59 t/ha. Die kompetisie het vanjaar 27 wenners in 9 produksieklasse opgelewer.
Die wêreldrekordopbrengs van 616,2 skepels/akker (41,44 t/ha) is in 2019 ook in Virgina opgestel deur mnr. David Hula, wat nie vanjaar deelgeneem het nie.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.