
Vanweë die groot hoeveelheid reën wat oor die grootste deel van Suid-Afrika geval het, versoek die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling dat boere hul mielies en ander gewasse vir die teenwoordigheid van herfskommandowurm, wat landwyd in wisselende hoeveelhede voorkom, moet monitor.
Luidens ’n verklaring deur die departement word boere ook aangeraai om voorsorgmaatreëls toe te pas, soos om op die uitkyk te wees vir eiers, beskadigde blare en wurms, asook wurms te vang.Volgens die departement kan die wurms doeltreffend bekamp word deur geïntegreerde plaagbestrydingspraktyke, soos om die wurms te bespuit wanneer hulle nog kleiner as 1 cm is. Dit is baie belangrik aangesien groter wurms diep in mielieplante se blare kruip en moeilik deur chemikalieë bereik word.
Die departement waarsku egter ook dat die grootste risiko met dié plaag is dat dit vinnig weerstand teen chemikalieë ontwikkel. Daarom word boere aangemoedig om die chemikalieë wat hulle vir die bestryding van herfskommandowurm inspan, af te wissel.
Me. Petru Fourie, navorsingskoördineerder en produksie-ontleder by Graan SA, sê daar is reeds by verskeie boere verneem dat herfskommandowurms die afgelope paar weke voorgekom het. Luidens ’n opname deur CropWatch is Limpopo een van die vernaamste provinsies waar herfskommandowurm jaarliks voorkom weens gunstige klimaatsomstandighede.
Sy sê daar is verwag dat uitbreking sou voorkom weens die uitermatige reën van die afgelope seisoen.
Sy waarsku dat herfskommandowurm maklik met ander plae verwar kan word en dus is dit noodsaaklik dat enige vermoedelike uitbreking bevestig word deur kenners. “Daar is verskeie geregistreerde chemiese middels beskikbaar vir die bekamping van herfskommandowurm, maar dit plaas druk op produsente se winsgewendheid omdat dit insetkoste opjaag. Die doeltreffendheid van bestrydingsmaatreëls hang af van die grootte van die larwe.”