In Desember het die stropers swaar gesluk aan die geil are tussen Britstown en Vosburg. En die vragmotors moes roer om sowat 5 000 ton korrels op Hopetown af te laai.
Op die N12 was motoriste en die voëls van die veld aan die raai waar die koring op die pad skielik vandaan gekom het. Dit was nie ’n wonderwerk nie. Maar daar was groot opgewondenheid oor hierdie oes. Dit was sindikaatkoring. En daar was tien jaar laas so iets.
Die Smartt-sindikaatdam is een van Suid-Afrika se oudste, maar onbekendste damme. Dit is ’n groot, oop palm tussen die rante suidwes van Britstown. ’n Ierse dokter, Thomas Smartt, wat in 1880 na dié klein Karoodorpie gekom het, het gesorg dat die dam gebou is.