Volgens die jongste skatting van die Nasionale Oesskattingskomitee wil Suid-Afrika se boere hierdie seisoen somergewasse op 3 944 miljoen hektaar plant. Om hierdie gewasse te plant en te oes, sal boere hul hande diep in die sak moet steek, want net die brandstof sal hulle ongeveer R1,118 miljard kos.
Só sê mnr. Fanie Brink, adjunk-hoofbestuurder van Graan Suid-Afrika.
Graanboere gebruik na raming 80 l diesel per hektaar. Teen die huidige prys van 374,2c/l is dit ongeveer R300 per hektaar.
Verlede jaar begin Oktober is die dieselprys op 332,75c/l vasgestel waarna dit die volgende maand tot 328,75c/l verlaag is. Sedertdien het dit voortdurend gestyg tot die huidige 374,20c/l.
Dit verteenwoordig 'n styging van 41,45c/l of 12,5 % oor 11 maande. Dit beteken dat boere vanjaar R33,16 per hektaar meer gaan betaal om hul lande te bewerk en te oes. In totaal sal dit dus die somergraanboere R130 783 miljoen meer aan diesel kos as in November verlede jaar.
Mnr. Brink sê vanweë die verswakkende rand teenoor die Amerikaanse dollar en die oliepryse wat gevolglik in dollarterme bly styg, sal diesel nie sommer noemenswaardig goedkoper word nie.
Belasting vorm steeds 'n baie groot deel van die prys. Volgens die Departement van Minerale en Energie se jongste uiteensetting van die samestelling van die groothandelprys van diesel, blyk dit dat belastings en heffings 28 % van die groothandelprys uitmaak. Die dieselprys, soos dit in die meegaande tabel uiteengesit is, is vir diesel met 'n swaelinhoud van 0,3 %.
Intussen gaan ál meer stemme in Suid-Afrika op dat brandstof uit byvoorbeeld sonneblomsaad vervaardig moet word. Die Regering reken biodiesel kan 'n groot bydrae tot 'n skoner omgewing lewer, terwyl dit werk kan skep en die landbou 'n hupstoot sal gee.
In sy Begrotingsrede vroeër vanjaar het mnr. Trevor Manuel, die Minister van Finansies, aangekondig dat hy op biodiesel net 70 % van die algemene heffing op diesel sal hef. In diegeval sal biodiesel dus met 24,3c/l minder belas word. Die huidige belasting op diesel is 81c/l.
Sasol kyk klaarblyklik al na die moontlikheid om brandstof uit sonneblomolie te vervaardig. Na verneem word, is dieondersoek nog in die begin, maar 'n span van Sasol kyk blykbaar na soortgelyke projekte in Duitsland.
In Amerika is al baie navorsing oor biodiesel gedoen en is dit reeds as 'n brandstof en brandstofbyvoeging by die Amerikaanse omgewingsbeskermingsagentskap geregistreer. Daar voldoen dit ook aan die standaarde vir skoon diesel wat deur die Kaliforniese lugbronneraad neergelê is. Die skoon (100 %) biodiesel is deur die Amerikaanse departement van vervoer aangewys is as 'n alternatiewe brandstof.
Biodiesel is die naam wat wêreldwyd gebruik word vir 'n skoonbrandende brandstof wat van plaaslike, hernieubare bronne vervaardig word. Dit bevat geen petroleum nie, maar kan met enige petroleumdiesel gemeng word. Met geringe of geen aanpassings kan dit skoon of vermeng in enige dieselenjin gebruik word. Dit is bio-afbreekbaar, nie-giftig en vry van swael en reuke.
In Amerika, waar die eerste vulstasie met suiwer biodiesel pas in Yellowstone vir die algemene publiek geopen is, word biodiesel hoofsaaklik van sojaboonolie vervaardig.
'n Nuwe wet wat vanjaar van krag geword het, bepaal dat Amerikaanse staatsdepartemente bio-produkte, wat biodiesel insluit, mag koop indien die gehalte en die prys reg is. Amerika se omgewingsbeskermingsagentskap het bekend gemaak dat biodiesel 'n kleiner longkanker-risiko inhou as gewone diesel. Volgens dieagentskap gebruik meer as 200 voertuigvlote in Amerika al biodiesel as brandstof. Zeeland-plaasdienste in Michigan, Ohio, wat een van die grootste vervaardigers van sojaboonolie in diestaat is, het ook pas toestemming gekry om brandstof uit sojabone te vervaardig.
Die samestelling van die groothandelprys (c/l) | |
Komponente | (c/liter) |
Groothandelmarge | 24,30 |
Verhaling van dienstekoste | 5,10 |
Sone-verskil in Gauteng | 11,50 |
Opsporingsheffing vir paraffien in diesel | 0,15 |
Brandstofheffing | 81,00 |
Doeane en Aksynsbelasting | 4,00 |
Heffing vir Padongelukkefonds | 18,50 |
Heffing om opbouende onderverhalings- rekening oor 'n tydperk te finansier | 2,00 |
Subtotaal | 146,55 |
Bydrae tot die basiese brandstofprys | 227,56 |
Groothandelprys | 347,20 |
29 November 2002