Nou gaan die bierbedryf hof toe om ’n herhaling van die enorme verliese wat die alkoholbedryf gedurende die covid-19-inperkings gely het, te vermy.
Daar is steeds die moontlikheid van ’n verbod op alkoholverkope in die toekoms. Dus is die stryd nog lank nie verby nie. Dít is die boodskap van me. Patricia Pillay, uitvoerende hoof van die biervereniging van Suid-Afrika (Basa), wat die mikrobrouery-vereniging van Suid-Afrika, Heineken SA en SA Brouerye verteenwoordig.
“Ons meen die kwessie is belangrik genoeg om hof toe te neem. Sodoende wil ons enige irrasionele verbod op alkoholverkope in die toekoms voorkom. Só ’n verbod sal die laaste spyker in die doodskis wees van duisende besighede wat skaars die vorige streng inperkingsregulasies oorleef het.”