
Alle kanolasaad wat in Suid-Afrika geplant word, word ingevoer. Die meeste saad kom van Australië, Suid-Amerika en Kanada. Planttyd vir wintergraan begin binnekort, en ’n erge tekort aan kanolasaad word ervaar, sê mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA.
Klimaatstoestande en gevolglike druk op produksietoestande in dié wêrelddele, asook ’n hoër vraag na saad in Suid-Afrika is die hoofredes waarom nie in die plaaslike en internasionale vraag na kanolasaad voorsien kan word nie.
Suid-Afrika se kanolabedryf is betreklik klein vergeleke met ander lande. Gevolglik het Suid-Afrika aan die kortste end getrek toe bestellings vir kanolasaad uitgevoer is. Louw sê om op kort termyn oplossings vir die situasie te probeer kry, is hulle tans in besprekings met al die saadverskaffers om vas te stel hoe boere met saad gehelp kan word.
Droogtetoestande in Kanada het tot laer produksie van kanolasaad gelei. Suid-Amerika het ook onder droogte deurgeloop, terwyl Australië te veel reën gedurende strooptyd gehad het.
Louw sê Suid-Afrika het verlede jaar ’n rekordkanolaoes van 197 000 ton van 100 000 ha ingesamel. Die oes was so goed dat die land selfs kanola kon uitvoer. “Kanola bied ’n alternatief vir wintergraanboere en sou ook ’n oplossing gebied het vir garsprodusente wat steeds onder druk is nadat die inperkingsregulasies die drankbedryf hard getref het, maar met hierdie saadsituasie word boere se keuses beperk.”
Louw sê na verwagting sal boere wat nie kanolasaad kan bekom nie, meer koring plant, want die enigste alternatiewe naas gars is hawer en lupiene, en in veral lupiene wag plaaslike boere ook vir die regte kultivars.
Boere erg frustreerd
Mnr. Koos Blanckenberg, voorsitter van Graan SA se spesiale werkgroep vir kanola, sê boere wat tydig hul saadbestellings geplaas is, is baie gefrustreerd met die situasie. “Van die kultivars wat bestel is, se voorraad is met 70% verminder.”
Die drie tipes saad (konvensioneel, Clearfield en TT) wat in Suid-Afrika geplant kan word, het elkeen sy eie chemiese behoeftes. “Die boer het dus sy chemiese middels en kunsmis gekoop na gelang van die saad hy bestel het. Nou kry jy nie jou saad nie en moet ander planne maak. Dit is veral frustrerend weens die uiters hoë koste van chemiese middels en kunsmis.
“Kommunikasie van oorsee was ook nie voldoende nie. Ander lande het hul bestellings gekry, maar nie Suid-Afrika nie. Ons saadmaatskappye is aan ’n lyntjie gehou,” sê Blanckenberg.
“Ek het baie empatie met plaaslike saadverskaffers se posisie, dis nie maklik om genoeg saad te bestel en te weet hoeveel jy werklik verkoop gaan kry nie. Dis ’n fyn balanseertoertjie,” sê Louw.
Blackenberg sê ’n oplossing vir dié seisoen is dat boere terughousaad van verlede seisoen aanplant, maar die risiko is groot dat dié saad nie die gewenste opbrengs gaan lewer nie. “Opbrengste van dié saad kan tot 30% laer wees, en met die hoë insetkoste van dié seisoen sal ’n boer mooi moet beplan of dit die regte antwoord is.”
Louw sê op lang termyn is die antwoord dat plaaslike saadmaatskappye hulle daartoe verbind om saad plaaslik te vermeerder. “As ons nie hand in ons eie sak gaan steek en saad gaan vermeerder vir ons eie bedryf nie, gaan ons altyd sukkel met invoer. Een ding is seker, ons gaan ’n oplossing moet vind as ons die plaaslike bedryf wil laat groei.”