Mnr. Japie Breedt glo vas in die wonder van moderne tegnologie en is oortuig vooruitgang en winsgewendheid is nie daarsonder moontlik nie. Hy hoop om oor twee jaar ’n mielie-opbrengs van 24 t/ha onder besproeiing te bereik.
Met ’n opbrengs van 15,23817 ton mielies per hektaar op ’n uitgesoekte deel van 2 ha het mnr. Japie Breedt van die plaas Bronkhorstfontein by Bapsfontein, Gauteng, die hoogste opbrengs behaal vir droëlandmielies in die sentrale streek in Graan Suid-Afrika se Groei vir Goud-opbrengskompetisie in 2021.
Die kultivar was DKC 64-54BR van Bayer, ’n vinnige groeier wat in die groeiklas van 114-117 dae vanaf opkoms tot fisiologies rypheid val. Dit is wat hy verkies in die streek waar hy boer. Die 2 ha was deel van ’n land van 70 ha wat gemiddeld 12,67 t/ha opgelewer het.