Drie nuwe Texas-kultivars voeg hul kragte by ’n ander nuweling wat reeds kommersieel verbou word en ’n opbrengs van 4 ton per hektaar – en selfs meer – in gunstige toestande lewer.
Kort op die hakke van uitsprake dat grondbone se winsgewendheid ernstig geknou is, sit drie nuwe kultivars uit Texas in die suide van Amerika ’n ander nuweling ore aan – met opbrengste van tot 17% hoër.
Mnr. Alfons Visser, eienaar van SA Peanut, soek al jare lank nuwe kultivars in die buiteland wat ’n groter opbrengs as die huidige kultivars lewer omdat grondboonproduksie in Suid-Afrika bly daal.
“Die bestaande kultivars maak nie noemenswaardige vordering met oesgrootte nie,” sê Visser. Die drie nuwe grondboonkultivars uit Texas het in die eerste proewe in Suid-Afrika opbrengste van tot 17% hoër op droëland én onder besproeiing behaal as ’n ander nuweling, Schubert, wat in kommersiële besproeiingsaanplantings al meer as 4 t/ha gelewer het.