
Hulle het Woensdagaand nog reën gekry, maar mnr. Wessel Jan van Deventer van Blydskap by Riviersonderend sê hulle vorder goed.
“Ons is so effe oor halfpad, en alles gaan baie beter as wat ek verwag het. Die gars is alles mout, maar die opbrengs is gemiddeld.”
Hy het nog net die helfte van sy kanola en koring gestroop. “Die kanola is bogemiddeld, maar die koring is dalk af teen die gars.”
Van Deventer is een van die boere wat verlede Mei meer as 300 mm reën in een nag gekry het. Hy sê die opbrengs op die lande waar baie grond en organiese materiaal weggespoel het, is aanvaarbaar, maar die stikstof (op die gars) en proteïen (op die koring) is laag.
“Dit sal nog so ’n jaar of wat vat voor dit reg is. Die grond daar lyk net of dit moeg is, ek moes meer kunsmis toegedien het.”
Die koring wat reeds gelewer is, se graad is meestal B2. Die koring wat op die uitgewaste kampe gestroop is, se proteïeninhoud is laag, maar dit skepel baie swaar.
Deklaag en min stikstog verlaag risiko
“Die koring loop heel orraait,” sê mnr. John Slabbert van Skilpadvlei by Moorreesburg. “Ek het nog net twee vragte dorp toe gevat en die proteïen was 13%, 14%. Ek het net 20 kg stikstof per hektaar gegee.”
Hy het eers op 7 November begin stroop omdat sy koring baie langer groen gebly het as dié in die omgewing. “Die materiaal (van die vorige jaar se medics) maak dat die grond die vog hou.”
Slabbert plant al van 2014 af met ’n skyfplanter.
Sy kanola het ongelukkig nie goed gevaar nie. Hy het net 0,984 t/ha gestroop. Dit is vermoedelik omdat die syhalms so laat nog geblom het en nie genoeg reën gekry het om die peultjies wat gemaak is, met pitte te vul nie.
Hy het vanjaar tot dusver 185 mm reën gekry, heelwat laer as die langtermyngemiddelde van 300 mm.
Mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg het nog so ’n “week se oes” oor.
Hy dink nie hulle kan te veel kla oor die opbrengste wat hulle behaal gegewe die min reën wat hulle gekry het nie.
“Ons stroop rêrig goeie grade. Ons opbrengste is direk gekoppel aan die millimeter reën wat ons op die verskillende plase gekry het. Reën is die beperkende faktor. Die stropers se monitors wissel van 1 t/ha tot 3 t/ha.
Hulle het net 60% van hul langtermyngemiddelde reën gekry en hy dink opbrengste sal 55% tot 60% van normale opbrengste wees.
“Vanjaar se oes is beter as 2015 en 2017 se droë jare, maar swakker as 2019. Dis die tweede swakste jaar van die vier droë jare wat ons die afgelope sewe jaar gehad het.
“Ons reën van 130 mm tot 180 mm oral op plase in die omgewing was net te min.”
Bester sê hul veevoersituasie is baie sleg. “Hier is nie surplusmateriaal op die grond vir die somer nie. Ons het minder as ’n derde van ons gewone voer gemaak. Dis die minste voer wat ons die afgelope 15 jaar kon maak.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.