Ná Landbou.com op 24 Junie berig het dat laergraadse mielies dié seisoen nasionale verhandelingsprobleme kan skep en dat mielieboere bekommerd is oor hul inkomste, het verdere ondersoek deur Landbouweekblad aangedui dat daar beslis dié seisoen groter afgraderings is as vorige seisoene.
Dit volg op ’n uitsonderlik nat Desember en Januarie toe rekordneerslae oor van die belangrikste mielieproduksiestreke geval het. Kenners het reeds vroeg vanjaar gewaarsku dat die nat grond tot groei- en gevolglik gehalteprobleme by veral mielieplante kan lei.
Waar laergraadmielies vorige jare saam met hoërgraadmielies by koöperasies en meulenaars aanvaar is, skep die hoë volumes daarvan probleme. Hoewel alle grade mielies tans by silo’s ontvang word, is die vergoedingstruktuur problematies omdat die aanvraag daarvoor so klein is.