
Die maatskappy se 20 ton-kompetisie het verlede jaar geëindig. Scheepers het dit verlede jaar met ’n opbrengs van 22,6 t/ha gewen.
Die kompetisie word in ’n noordstreek (plase noord van Cradock) en ’n suidstreek (plase suid van Cradock) verdeel vanweë die drastiese temperatuurverskille tussen die twee streke.
Scheepers was die wenner in die suidstreek. Mnr. André Marais was tweede met ’n opbrengs van 21,35 t/ha en mnr. Kobus le Roux derde met 21,06 t/ha. Albei is van Cradock.
Mnr. Kobus Marais van Hofmeyr het met ’n opbrengs van 22,22 t/ha in die noordstreek gewen. Mnr. Abraham Steyn van Venterstad was tweede met 21,8 t/ha en mnr. Jannie Swiegers van Steynsburg derde met 21,65 t/ha.
Die hoogste opbrengs tot dusver in die Oos-Kaap is 23,92 t/ha wat in 2016 op mnr. Erich Cloete se plaas Sanctuary buite Cradock geoes is.
Mnr. Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad, sê dit gaan nie maklik wees om ’n opbrengs van 30 t/ha te behaal nie. “Ons is amper by die mikpunt van 25 t/ha. Ons streef daarna om daardie kerf in die nabye toekoms oor te steek. Ons staan klaar net onder 24 t/ha.”
Hy sê ses jaar gelede, met die begin van die 20 ton-mieliekompetisie, het dit amper ondenkbaar gelyk het om ’n opbrengs van 20 t/ha te behaal, maar vanjaar het 9 van die 20 deelnemers meer as dié mikpunt gestroop.
Visser is oortuig die mikpunt van 30 t/ha is haalbaar danksy nuwe tegnologie en nuwe kultivars saam met die regte kunsmismengsel, met mikro-elemente wat die voedingstatus van die boer se grond aanvul.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.