Mnr. Carel Opperman van die Broodsnyersplaas-boerevereniging by Middelburg, Mpumalanga, sê die omgewing is druipnat ná hoë reënval.
“Ons gemiddelde reënval van Oktober tot April is gewoonlik 650 mm vir die seisoen, maar ons het reeds net meer as 620 mm aangeteken. Boonop het ons nat begin ná ’n baie nat vorige seisoen.
“Dit het ook daartoe gelei dat heelparty boere nie hul volle hektare kon beplant nie. Ten spyte van die baie reën lyk mielies en sojabone belowend. Dit is veral die vroeë mielies, wat verder ontwikkel is, wat baie goed lyk.”