
Hulle moet nie net fokus op die herfskommandowurm in hulle lande nie, maar op alle moontlike plantvretende insekplae wat ook Afrika-kommandowurm insluit.
Die departement van landbou, bosbou en vissery het verlede week die eerste bevestiging gekry dat herfskommandowurms in suikermielies naby Clanwilliam opgespoor is. In lokvalle is ook groot hoeveelhede motte aangetref. Hulle moedig verskerpte verkenning aan omdat die motte gedurende die herfs migreer.
Agri SA sê ook in ’n nuusflits die laat mielie-aanplantings oor die grootste deel van die westelike en sentrale mieliegordel in Suid-Afrika is hierdie seisoen 'n groot bron van kommer vir produsente. Die impak wat dit op sekere insekplae kan hê, is belangrik om te oorweeg, en daarom word aanbeveel dat produsente waaksaam bly.
Wyd versprei
Oor waar die plaag al voorgekom het, sê die department kleinboere in Limpopo ly skade terwyl KwaZulu-Natal se departement van landbou en landelike ontwikkeling gereeld motwaarnemings en skade aanmeld.
Prof. Johnnie van den Berg, insektekundige van die Noordwes-Universiteit, sê verskeie boere by Oos-Londen ook herfskommandowurm-besmettings aangemeld. “Die plaag het dus, soos in die vorige produksiejaar, weer so ver suid as die Oos-Kaap beweeg. Omdat die herfskommandowurm ‘n tropiese plaagsoort is en nie by lae wintertemperature kan oorleef nie, is die kans uiters skraal dat dit by wintergewasse in die Oos- en Wes-Kaap kan voorkom.”
Die organisasie Cropwatch Africa berig dat Afrika-kommandowurms in Noordwes en die Vrystaat opgemerk is by Lichtenburg, Klerksdorp, Bothaville, Viljoenskroon, Welkom, Henneman, Kroonstad en Wesselsbron. Die wurms kom ook in Mpumalanga en KwaZulu-Natal voor by Badplaas, Ermelo, Piet Retief, Vryheid en Mkuze. Senwes het boere in sy bedieningsgebied ook gemaan om dringend hul verkenning op hul lande te verskerp.
Verkennings gestaak
Graan SA het sy kommer uitgespreek oor onafhanklike waarnemings wat in ’n groot mate tot stilstand gekom nadat die organisasie, wat verlede jaar betaal het om dit te laat doen, in Desember onttrek het omdat die department van landbou, bosbou en visserye glo nie sy deel bygedra het nie.
Die departement het verlede maand gesê hy monitor self vir veral herfskommandowurms, en daar word klem gelê op gebiede waar die plaag nie voorheen voorgekom het nie. Baie min skade is nog in die 2018-’19-mielieproduksiejaar aangemeld.
Die voorgeskrewe bekampingsmaatreëls vereis van ’n boer om al die nodige fitosantêre maatreëls te tref en herskommandowurms volgens die aanbevole maatreëls van die department te bestry. Kragtens dié maatreëls moet elke geval waar die plaag voorkom, aangemeld word.
Die wurms kan skade aan plante, en veral jong plantmateriaal, veroorsaak. Graan SA sê vroeë opsporing en identifikasie is die sleutel om die plaag te klop voordat dit ’n groot probleem word.
Bespuitings
Van den Berg sê boere moet in gedagte hou dat bespuiting teen die herfskommandowurm by mielies wat al begin pluime stoot, nie doeltreffend is nie en in die meeste gevalle onnodig is. “Geneties gemodifiseerde Bt-mielies verskaf ook doeltreffende bekamping van die plaag in veldtoestande.”
Sommige ekonomies belangrike wurmspesies by graangewasse sluit in die Afrika-komandowurm, die Afrika-bolwurm, die Afrika-mieliestamboorder, die Chilo-boorder, die herfskomandowurm en die valswurm.
* Klik hier vir inligting oor die identifikasie van verskillende ruspespesies.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.