
Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê die hittegolf, wat na verwagting tot volgende week oor veral die sentrale tot westelike en die noordwestelike dele van die somerreënstreek kan voortduur, rig beslis skade aan. Dit is egter op hierdie stadium moeilik om die werklike omvang van die skade te bepaal.
“Koring is ’n taai gewas, maar hy kan ook net soveel hitte en droë weer vat. Mense wat in die Kaap boer, sal weet die slag vir wintergraan is eintlik klaar daar gelewer. Daar is baie skade aan die wintergewasse in die Kaap as gevolg van die reën wat in die tweede helfte van September en in Oktober weggebly het. Ons sou kon doen met goeie reën daar.
“In die noorde met die hitte, droë weer en boonop beurtkrag wat ’n impak op besproeiingsboere gehad het, is daar beslis skade gerig. Ons sal egter eers met die volgende oesskatting kan sien of die werklike skade bepaal kon word.”
Die volgende oesskatting sal op 26 Oktober bekend gemaak word.
Louw sê hy hoop die reën wat gedurende die naweek vir die noordoostelike gedeeltes van die land voorspel word, sal realiseer. “Vir die boere wat nou koring op die lande het, sal lentereën baie welkom wees.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.