Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê koring in veral die Noordwes-Vrystaat is so te sê ryp en talle boere moet vandeesweek begin stroop. “Van volgende week af is dit voluit strooptyd vir koringboere in die streek, net soos met besproeiingsgebiede in die noorde. As die lande nie gou gaan afdroog nie, kan ons ’n soortgelyke situasie as verlede jaar sien, waar boere te laat in hul lande kon kom om koring te stroop. Dit het dan ’n groot invloed op die uiteindelike graangehalte.”
Wat ook ’n bekommernis is, is dat daar koringboere is wat aangedui het dat hul koringgehalte reeds geaffekteer is. Alles is egter nie verlore nie en Louw sê dat daar ander streke is wat nog kan baat vind by die reën. “Na gelang van die groeistadium sal groen koring nog kan baat vind by die natter toestande, maar as die koring eers ryp is, moet dit nie water kry nie. Dit is dan wanneer graadprobleme voorkom. In die Oos-Vrystaat is daar byvoorbeeld nog tyd om te gaan, want hulle koring is nog groen op die lande nadat boere in die streek eers in Julie en Augustus kon plant.”
Louw meen ’n bietjie sonskyn sal net die regte medisyne wees. “Sodra die lande bietjie droër is, behoort die boere te kan inklim en klaar stroop; hopelik is daar ook kontrakteurs wat beskikbaar is en wat ook kan help om die stroopproses so vinnig moontlik af te handel.”