Die sesdegeslagboer van Kemp Mill, Maryland, Amerika, mnr. Chris Weaver, is baie vrygewig met die lys faktore wat hom die sojaboonwêreldrekord besorg het, maar hou vol alles begin by grondgesondheid. ’n Maklike begin was dit egter nie, en faktore teen hom was hoë soutvlakke, ’n lae pH, moeilike weerstoestande en pryse.
“In boerdery is ons geneig om nooit ons grond te herstel nie. Ons kyk nooit na die volgende stap wat ons kan doen om vooruit te boer nie. Opbrengs word nagejaag met dit wat ons reeds weet, pleks van om na alternatiewe oplossings te kyk.”
In Weaver se geval was die beginpunt humate en suikers om die mikrobegroei in sy grond te stimuleer. “Ek het besef dit gaan nie net oor die kunsmis – die stikstof, fosfor en kalium – in jou grond om hoë-opbrengsmielies en -sojabone te verbou nie, maar ook oor die mikrovoedingstowwe om jou grond te voed, daarna om te sien en om die mikrobes wat reeds in die grond is, te versterk.