
Mnr. Kellie Becker, besturende direkteur van Southern Oil Bpk. (Soill), het op ’n kanola-inligtingsdag van die Proteïennavorsingstigting gesê kanola is nie in mededinging met koring en gars nie.
“Kanola op sy eie gaan nooit werk nie. Dit presteer op sy beste in wisselbou met ander gewasse. Dit bring ook die insetkoste en risiko af.”
Becker het op die inligtingsdag op Klipdale gesê die hoë en stygende insetkoste van kanola skep ’n geleentheid, aangesien dit boere gaan dwing om meer gebalanseerde wisselbouprogramme toe te pas.
Die waarde van kanolaverbouing in wisselboustelsels, veral ten opsigte van die gunstige uitwerking op koring wat daarna geplant word, is deur mnr. Robert Bosch, ’n direkteur van Viking Holdings, beaam.
Maar hy het gesê daar moet oor kanola se posisie in wisselboustelsels besin word. “Kanola word gewoonlik ná gars geplant, wat seker die slegste plek is. Sal kanola nie beter presteer as dit eerder ná lusern, medics of selfs dekgewasse geplant word nie?”
Dr. Johann Strauss, wetenskaplike oor volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou, sê hul stelselnavorsing toon inderdaad dat kanola-opbrengste in alle proewe die hoogste is ná peulgewasweidings. “Daar is iets in die natuurlike stikstof wat goed is vir kanola.”