
Dít is ten spyte daarvan dat die maatskappye wat kanolasaad invoer, in September vir Graan SA verseker het dat hulle genoeg saad sal kan invoer. Teen Desember het Graan SA egter “met verbasing” verneem dat ten minste een van die maatskappye probleme met sy saadverskaffer het.
Mnr. Koos Blanckenberg, voorsitter van Graan SA se kanolaspesialiswerkgroep en boer van Klipheuwel, het op die Graan SA-streekvergadering op Moorreesburg gesê min of meer 330 ton kanolasaad is nodig as hulle in die behoeftes van die groeiende kanolabedryf wil voorsien.
“Ons kan bevestig 175 ton is op pad na Suid-Afrika toe. Dit is heeltemal te min.”
Blanckenberg sê daar is ’n ekstra 100 ton wat moontlik gaan bykom. “Ons het vanoggend gehoor daar is blykbaar nog tonne wat bygekom het en bevestig kan word. As ons daardie saad kan kry, kom ons by 270 ton tot 280 ton uit, wat naby is en ons weet daar is saad wat teruggehou is.”
Hy sê hulle doen hul bes om genoeg saad te bekom. “Dit gaan ongelukkig nie die kultivars wees wat ons wil plant nie.”
Blanckenberg is teleurgesteld in van die saadmaatskappye. “Wat my ontstel het, is die toewyding wat ek en jy as kanolaprodusente het, wat Soill het tot die bedryf en wat die opbergers van kanola het; daardie toewyding kry ek nie by die maatskappye wat die saad vir ons invoer nie. Hierdie ouens voel nie genoeg vir ons besigheid nie.
“Ek kan nie verstaan hoekom dit altyd Suid-Afrika se saad is wat die verkeerde goed oorkom nie, en ons kry nie die regte antwoorde van oorsee af nie. Hierdie ouens voel nie genoeg vir ons besigheid dat hulle op ’n vliegtuig klim en die mense in die oë gaan kyk en ons saad vir ons vasmaak nie.”
Saad plaaslik vermeerder
Op ’n vraag waarom saadmaatskappye nie saad plaaslik kan vermeerder nie, het Blanckenberg geantwoord dis ’n vraag wat hulle al lank vir die saadmaatskappye vra. Dit kan egter gevaarlik wees vir die saadmaatskappye. Waar boere gewoonlik R500/kg tot R530/kg vir ingevoerde saad betaal, kan plaaslik geproduseerde saad aansienlik goedkoper wees en boonop sekerheid gee.
Een van die saadmaatskappye het probeer om saad te vermeerder en was gedeeltelik suksesvol. ’n Ander maatskappy weier om dit te doen, sê Blanckenberg. “Dit het te doen met die tegnologie agter die produkte en dat die eienaars van die tegnologie beheer daaroor wil hou.”
Teruggehoude saad hou risiko's in
Blanckenberg sê hy besef dat boere vanjaar nie anders sal kan as om teruggehoude saad te plant nie, maar waarsku dat dit risiko’s inhou.
Proewe wat mnr. Piet Lombard, me. Lisa Smorenburg en dr. Johann Strauss van die Wes-Kaapse departement van landbou op Langgewens-navorsingsplaas gedoen het, toon dat die opbrengs met 5,5% tot 24,1% daal as teruggehoude saad gebruik word.
“Sommige kultivars se opbrengs daal minder as ander, maar hierdie proef se gemiddelde afname was 13,9%,” skryf Lombard in die Januarie-uitgawe van Canolafokus, die nuusbrief van die Proteïennavorsingstigting.
Kanola-olie-inhoud het met 0,8% afgeneem en daar was swakker oorlewing van saailinge van teruggehoude saad. Lombard het ook gevind dat teruggehoude saad risiko’s vir plantsiektes inhou, met swartstaminfeksie wat met 11% tot 20,2% toegeneem het.
Kanolaboere het verlede jaar 127 000 ha kanola geplant en 208 000 ton kanola geoes. Dit was die grootste aanplanting en oes in die geskiedenis van die bedryf wat 30 jaar gelede begin is.
Pioneer, die grootste verskaffer van kanolasaad, het nie gereageer op die vrae wat aan hom gestuur is nie, omdat die moedermaatskappy in ’n sogenoemde geslote tydperk is.