
Katoenproduksie in Suid-Afrika het teruggesak sedert die 2018-’19-seisoen omdat die pryse vir ander gewasse skerp gestyg het.
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, het op die viering van Wêreldkatoendag op 7 Oktober gesê kommersiële boere weeg die winsgewendheid van katoen teenoor ander gewasse op. Hulle plant hoofsaaklik katoen wanneer dit die beste winspotensiaal bied of as daar nie ander opsies is nie.
Daar is egter ’n groot toename in die verwagte aanplantings van kleinboere in die 2022-’23-seisoen. Danksy steun van die regering word verwag dat vanjaar se aanplantings onder dié boere teenoor die vorige seisoen met 86% van 2 726 ha tot 3 174 ha gaan toeneem. Dit sal bydra tot ’n toename in werksgeleenthede van 4 285 tot 7 965 en, sê Bruwer, skakel goed in by die landboumeesterplan om die bydrae van swart boere tot 20% te laat groei teen 2030.
Bruwer het aan gaste op die viering in Pretoria vertel dat katoen 81% van die wêreld se natuurlike veselproduksie verteenwoordig en twee derdes in waarde.
Katoenproduksie maak dit vir 45 miljoen gesinne, waarvan baie in die wêreld se mees onontwikkelde lande woon, moontlik om ’n inkomste te verdien.
‘Groen’ vesel
Dit kan herwin of herbruik word en uiteindelik weer in die grond ingewerk word vir mikro-organismes om af te breek.
Katoen is ook ’n goeie alternatief vir plastiek en kan help om die tonne plastiek wat jaarliks op die wêreld se strande uitspoel, te verminder. Teen die huidige tempo van besoedeling kan seelewe oor 20 tot 30 jaar daardeur uitgewis word.
’n Mens voorkom dus besoedeling deur sintetiese vesel in die oseane deur katoen te dra, het Bruwer gesê.
Katoen se koolstofvoetspoor is ook beter as neutraal. Die plant berg meer koolstof in sy lint en saad op as wat deur die ontbranding van fosielbrandstof en deur kunsmis vrygestel word in die produksieproses. Dit is dus ’n goeie gewas om te plant in die stryd teen klimaatsverandering.