
Volgens The East African het die hof die regering se planne tydelik opgeskort nadat die Keniaanse bond van kleinboere, ’n drukgroep wat kleinboere verteenwoordig, ’n hofaansoek teen die opheffing van die verbod ingedien het. Volgens die groep is die regering se besluit nie proseduurlik nie en is dit onwettig.
Die Keniaanse regering het in Oktober aangekondig dat hy die invoer van geneties gemodifiseerde mielies gaan toelaat weens ’n drie jaar lange droogte wat tot ’n voedseltekort vir 4 miljoen Keniane lei. Die verbod op invoer is in 2012 ingestel.
Volgens die hof word die regering nou verbied om enige voorskrifte rakende GMO’s in die Staatskoerant af te kondig of om die kabinetsbesluit wat die verbod ophef, in werking te stel.
Volgens die groep hou GM produkte ’n gesondheidsrisiko in vir Keniaane – veral die armer en lae-inkomstegroepe – en het die regering die verbod opgehef sonder om die publiek, soos vereis deur die grondwet, te raadpleeg.
Volgens mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het Suid-Afrika verskeie markte in Suider-Afrika en die Verre Ooste vir mielies. Kenia kan ’n bykomende bestemming word, maar die vertraging in die deregulering van GMO’s gaan nie noodwendig ’n probleem wees vir ’n Suid-Afrikaanse boer nie.
Dr. André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse graan-en-oliesadehandelsvereniging, sê die hofbevel is net ’n tydelike maatreël en die aansoek word 15 Desember aangehoor.
Van der Vyver het net ná die aankondiging van die opheffing van die verbod in Oktober gesê Kenia sal ’n invoerheffing moet laat vaar om Suid-Afrikaanse uitvoer finansieel haalbaar te maak.
Hy sê dit is egter onduidelik oor waar Suid-Afrika nou staan rondom die tarief. “Daar was nog altyd lande, meestal in Oos-Afrika, wat vrygestel is van die inovoertarief vir ’n sekere tyd van die jaar. Suid-Afrika was nie een nie.”
Hy sê dit blyk nou uit berigte dat alle lande vanaf Februarie 2023 vrygestel sou wou word, maar dit is nou onseker gegewe die verskillende berigte wat ontvang word.
Buiten die GM- en tariefkwessies wonder hy waar Kenia mielies sal kry aangesien Suid-Afrika die meeste van sy surplus witmielies na Mexiko uitvoer. “Daar is min ander lande waar Kenia mielies kan kry.”
Hy sê dit hang egter af van die spesifieke periode en pryse op daardie tydstip, wat waarskynlik vier tot ses maande van nou sal wees.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.