Kommer
bestaan onder Suid-Kaapse melkboere oor die tempo waarteen kikoejoe hul
besproeide gras-klawerweiding inneem. 'n Navorser gee wenke oor hoe boere
hierdie probleem moet hanteer.
Melkboere in die Suid-Kaap is bekommerd oor die tempo waarteen kikoejoe besproeide gras-klawerweiding inneem. Dit kan ernstige gevolge vir melkproduksie inhou. Dit lei ook tot grasoorheersing in gras-klawerweiding, wat dieweiding afhanklik maak van duur stikstofbemesting. En in die huidige krisis wat suiwelboere beleef, is dít beslis nie goeie nuus nie.
Só sê mnr. Philip Botha, senior navorser by die Outeniekwa-proefplaas buite George. Hy meen die verhoging in grondvrugbaarheid en permanente besproeiingstelsels wat benodig word vir gras-klawerweiding, saam met die Suid-Kaap se matige klimaat, skep ideale groeitoestande vir hierdie subtropiese gewas.
Nuwe kikoejoekultivars waarvan die saad maklik deur die mis van diere versprei word, verhaas boonop die vermoë van kikoejoe om oor plase te versprei.
Baie boere kry goeie resultate met gereelde kolbespuitings in gras-klawerweiding, maar chemiese bestryding kos baie en is arbeidsintensief, wat tot gevolg het dat kikoejoe moeilik volhoubaar in bedwang gehou kan word, meen mnr. Botha.
Kikoejoe het genoeg sonlig op sy groeipunte nodig om te groei. By 'n gebrek aan regstreekse sonlig vestig kikoejoe moeilik, herstel dit stadig ná die winter en produseer dit min.
Navorsers by die Outeniekwa-proefplaas gebruik om hierdie rede die oorskadueffek van ander gewasse om die groei van kikoejoe te vertraag.
Aan die ander kant word kikoejoeproduksie verhoog wanneer dit druk en kort bewei word sodat die sonlig op die groeipunte skyn en nuwe blare vinnig gevorm word.
In geval van weiding waar die gevaar van kikoejoe-indringing bestaan, moet die bestuurstelsel ten doel hê om die grond altyd heeltemal te bedek. In die Suid-Kaap is verkeerde bestuurspraktyke op gras-klawerweiding die belangrikste rede waarom hierdie weiding ál meer deur kikoejoe ingeneem word.
Mnr. Botha sê boere moet die volgende in gedagte hou:
Oorbesproeiing veroorsaak versuiptoestande waarin kikoejoe beter kan oorleef as gras-klawer-weiding. Besproeiingskedulering voorkom oorbesproeiing.
Die produksie van gras-klawerweiding kan verhoog word deur met stikstof te bemes wanneer klawers dormant is. Dit vind plaas by lugtemperature laer as 10 °C. Dit word strategiese stikstoftoediening genoem. Nie-strategiese stikstofbemesting veroorsaak egter dat die klawers uit die mengsel verdwyn, wat die geleentheid vir kikoejoe skep om te vestig.
Plante in 'n gras-klawerweiding wat langdurig en vinnig opeenvolgend bewei word, het 'n kort produksietydperk van 1 tot 2 jaar, asook 'n lae diereproduksiepotensiaal. Die vinnige ontblaring het 'n swak wortelstelsel tot gevolg, wat die weiding verswak en die geleentheid skep vir kikoejoe om in die oorvloed sonlig vinnig gevestig te raak. Lae melkproduksie kan verwag word omdat onvolwasse blare bewei word wat tot 90 % water bevat. 'n Melkkoei het 15 kg droëmateriaal per dag nodig om optimaal te produseer. Die hoë voginhoud van die weiding beperk die aantal kilogram droëmateriaal wat sy op 'n dag kan vreet.
In 'n poging om ou, onsmaaklike materiaal op byvoorbeeld miskolle met 'n bossiekapper te verwyder, word gras-klawerweiding dikwels tekort gesny. Dit veroorsaak dat raaigrasse se groeipunte afgeslaan word, wat dan die produksie en volhoubaarheid van die weiding verlaag. Kikoejoe neem vinnig dieverswakte weiding in.
As tedig gesaai word, moet die plante om water, voedingstowwe en sonlig meeding. Swak bogrondse groei en wortelontwikkeling het 'n swak stand tot gevolg. Die gebrek aan sonlig op die groeipunte van raaigrasse en klawers in 'n gras-klawermengsel vertraag die ontwikkeling van onderskeidelik nuwe dogterspruite en stolons, wat nodig is vir die volhoubaarheid van die weiding. 'n Gebrek aan nuwe plante het tot gevolg dat daar genoeg plek is vir kikoejoe om die weiding in te neem.
Mnr. Botha meen deur diebasiese riglyne te volg, behoort reeds ver gevorder te word om die probleem van kikoejoe-indringing in gras-klawerweiding hok te slaan.
Daar is heelwat inligting oor die bestuur van gras-klawerweiding, asook riglyne vir die volhoubaarheid van klawers in gras-klawerweiding beskikbaar by die Outeniekwa-proefplaas. Lesers kan mnr. Botha bel by tel. 044 874 2047.
15 November 2002