Weens enkelgewasverbouing het die organiese inhoud van Suid-Afrika se landbougrond oor die afgelope drie dekades omtrent tienvoudig afgeneem. Volgens mnr. Gerhard Mostert, 'n landboukonsultant van Nelspruit, Mpumalanga, het die bewerkbare grond se organiese inhoud van 2 % tot 5 % dertig jaar gelede tienvoudig afgeneem tot die huidige 0,2 % tot 0,5%.
Boere, ook diewat nie noodwendig organiese verbouing toepas nie, het opnuut besef dat hulle organiese materiaal in hul grond sal moet terugsit om die volhoubaarheid van hul ondernemings te verseker.
Volgens mnr. Mostert word etanol op groot skaal uit suikermelasse in Swaziland gedistilleer en die groot hoeveelhede afvalprodukte van hierdie proses, 'n tipe riet/melasse, het 'n ernstige probleem geword. In 'n poging om van hierdie probleem-afvalprodukte ontslae te raak, is dit op suikerrietlande uitgestrooi. Die riet op hierdie lande het net so goed vertoon as riet op ander lande waar slegs die chemiese vorm van kalium toegedien is. Dieafvalproduk word Cane Molassis Spillage genoem.
Hierdie "ontdekking" van Cane Molassis Spillage in Swaziland het veral die piesangboere van die Onderberg-gebied in Mpumalanga se belangstelling geprikkel. Piesangs benodig baie kalium en dit vorm gewoonlik 'n beduidende deel van die totale produksiekoste. Mnr. Mostert en mnr. Ben Liebenberg, 'n sakeman van Komatipoort, het 'n maatskappy, Integrated Organic Systems, gestig om diesuikerrietafvalproduk in die Onderberg-gebied te bemark.
Deur Cane Molassis Spillage te gebruik in die plek van chemiese kalium spaar piesangprodusente byvoorbeeld van R1 000 tot R3 000 per hektaar, terwyl groot hoeveelhede organiese materiaal terselfdertyd in die grond beland met die verdere bonus dat ook mikro-elemente daarin voorkom waarvoor nie gewoonlik chemies bemes word nie.
Mnr. Mostert sê die voordele van hierdie organiese produk het vinnig onder die boere versprei en die vraag daarna het alle verwagtinge oortref. Die aanvanklike verbruik van sowat 2 000 ton wat in 2000 vanaf Swaziland gebring is, het gegroei tot die huidige sowat 60 000 ton wat nou per jaar net in die Onderberg-gebied gebruik word.
Die probleem waarmee rekening gehou moes word, was dat hierdie 60 000 ton die twee distilleeraanlegte in Swaziland se totale afvalstofproduksie per jaar is. In hierdie probleem het mnr. Mostert egter 'n groot uitdaging gesien en 'n deeglike ondersoek is gedoen na plaaslike bronne van organiese materiaal waarmee die Cane Molassis Spillage aangevul kon word. Die vereistes was 'n goed gekomposteerde medium wat redelike hoeveelheid voedingselemente bevat. Bronne van organiese materiaal wat onder die vergrootglas geplaas is, is onder meer lemoenskilafval, tabakstof, beesmis, hoendermis en selfs ghwano. Sy maatskappy se komposaanleg word op die terrein van 'n oopgroefmagnesiummyn naby Malelane bedryf. Die rede daarvoor is dat 'n nabygeleë sitrusverwerkingsaanleg reeds vir jare een van die uitgewerkte myne as 'n stortingsterrein vir afvalstowwe gebruik.
Daar was dus 'n onmiddellike groot bron gekomposteerde sitrusskilkompos beskikbaar. Ander organiese materiale, soos bees- en hoendermis, ghwano en tabakstof, word dus na die komposaanleg vervoer en in windrye afgelaai. Hierdie komposrye word gereeld deur 'n trekker met 'n skopgraaf omgekeer. Die sitrusskilkompos dien as basis wat dan met kompos van die ander bronne gemeng word.
Die verskillende soorte kompos word afsonderlik ontleed sodat die presiese voedingselemente in elke kompossoort bekend is. Met hierdie verskillende soorte kompos, elk met sy eie voedingsamestelling, kan 'n 100 % suiwer organiese kompos gemeng word waarvan die voedingswaardes bekend is. Die mark vir suiwer organiese kompos is egter nog beperk en daarom word ook 'n geïntegreerde benadering gevolg.
In die praktyk beteken dit dat die organiese kompos (met vasgestelde voedingsamestelling) chemies verryk word volgens die kliënt se vereistes. Dit gee 'n hoër voedingswaarde per volume aan die kompos en word "voorskrifmengsels" genoem, sê mnr. Mostert.
Tans word 2 000 ha tot 3 000 ha suikerriet reeds volgens hierdie geïntegreerde benadering verbou. Sowat 600 ton kompos per maand word hiervoor verwerk. Dit gaan binnekort verhoog word na 1 000 ton per maand. Die mikpunt is om minstens 2 000 ton per maand vanaf die begin van vanjaar te produseer.
Die voedingstowwe in chemiese kunsmis is gekonsentreerd en daarom kan boere wegkom deur miskien 1 ton tot 2 ton komposmengsel per hektaar toe te dien. Met die organiese kompos moet volumes van 2 ton tot 20 ton per hektaar toedien word om die vereiste voedingstowwe beskikbaar te stel.
Die feit dat kompos in groter hoeveelhede as chemiese kunsmis toegedien word, het die maatskappy genoop om sy besigheidsaktiwiteite verder uit te brei. Die volgende logiese stap was om trekkers en misstrooiers aan te skaf om die kompos of komposmengsels vir kliënte op hul plase toe te dien.
"Hoewel daar 'n groeiende mark vir organies verboude produkte is, is daar ook 'n nuwe en groot belangstelling om, in die naam van volhoubaarheid, 'n meer geïntegreerde benadering te volg," sê mnr. Mostert.
6 Junie 2003