
Mnr. Gert Heyns, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap (Sacta), het op ’n vergadering van die koringforum gesê hulle is bekommerd daaroor, maar hy weet daar is amptenare wat daaraan werk om dit voor die spertyd deurgevoer te kry. Vir koring en gars is die heffing nou al vir vier seisoene ingevorder en vir hawer en sojabone vir twee seisoene.
Die verwagting vir die 2019-’20 seisoen is dat R43 miljoen (94,5%) aan heffingsgeld vir koring ingesamel sal word waarvan net meer as R8 miljoen vir transformasie beskikbaar sal wees. “Die vraag wat altyd gevra word, is hoe kostedoeltreffend die heffings ingevorder word. Wat Sacta betref, is dit uiters doeltreffend.” In die boekjaar wat in Februarie geeïndig het, was Sacta se totale invordering R122 miljoen. Hiervan is R3 miljoen (2,5%) aan kommissie vir invorderaars uitbetaal en die administrasiekoste was minder as R4 miljoen (3,2%).
In die vorige drie jaar wat die tegnologieheffing op koring ingevorder is, is altesame R106,4 miljoen al aan saadmaatskappye uitbetaal volgens hulle markaandeel.
Mnr. Andries Theron, koringboer van Moorreesburg en lid van die forum, het gesê vir hom as boer is dit bemoedigend om te sien hoe nuwe internasionale belanghebbendes in Suid-Afrika se koringbedryf begin belang stel. “Dit was juis die aanvanklike doelwit met die heffing om toegang tot nuwe saad en tegnologie te bekom. Die sukses wat ons hiermee behaal, is ’n groot pluspunt.”
Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA, het gesê die belangrikste aspek van die markaandeel is dat dit toon watter saad produsente verkies. “Produsente is absoluut daarop ingestel om die kultivars te kies wat die grootste opbrengs en marges verseker. Die hele mikpunt met die heffing was juis om daardeur beter kultivars met hoër opbrengste beskikbaar te kry.”
Strydom wat ook oor die verwagting vir die huidige oes gepraat het, het gesê in die meeste gebiede was die reënval tot dusver bogemiddeld. “As toestande gunstig bly, verwag ons bogemiddelde tot uitstekende oeste. Dit is goeie nuus gegewe ’n paar moeilike seisoene wat verby is vir die koringbedryf.”
Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het na die goeie oesvooruitsigte vir wintergewasse verwys. Hy het gesê die Nasionale Oesskattingskomitee se raming van verlede maand het al gedui dat die produksie van koring, gars en kanola met 28%, 46% en 29% onderskeidelik op ’n jaargrondslag kan verhoog tot 1,96 miljoen ton, 505 215 ton en 122 820 ton. “Dit is die grootste koringoes in ’n dekade en rekordoeste vir gars en kanola.”