“Hierdie is ’n krisis en ons kan nie langer net daaroor praat nie. Ons moet hierdie jaar kan oorleef en daarom onmiddellik optree.” Só het mnr. Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van die kunsmismaatskappy Omnia, op die kongres van Graan SA gesê oor die krisis wat die insetomgewing bedreig.
In sommige gevalle het kunsmispryse met meer as 200% gestyg, al hoe meer daarvan word ingevoer, en gebrekkige hawe- en vervoerinfrastruktuur jaag koste verder op.
Mnr. André Kirsten, voorsitter van Graan SA se inset-en- produksiewerkgroep, het gesê kunsmis self is nie die probleem nie, maar ander aspekte rondom die bedryf. “Ons moet dit doeltreffend op boere se plase kan kry as ons hulle op die plase wil hou.”