
Mnre. Danie Bester van Balfour in Mpumalanga en Stefan Jacobs van Stoller Suid-Afrika het ’n jaarlikse kompetisie om te sien wie die enkele sojaboonplant met die meeste peule kan produseer. Bester staan hier bo met sy “inskrywing” vir vanjaar. “Stefan is ’n goeie sojaboonkenner, met sy agtergrond by Stoller. Ek meen egter ek het ook al so een of twee truuks geleer.”
Bester sê verlede jaar se wenplant het ’n allemintige 1 605 peule op een plant opgelewer.
Jacobs wat reken dat dit moontlik die meeste peule is wat nog in Suid-Afrika op ’n sojaboonplant getel is. “Ons probeer elke jaar kyk wie die meeste peule kan produseer, met so R100 op die spel.” Bester en Jacobs het drie seisoene gelede met die kompetisie begin.
Bester sê dit is vir hom interessant om te sien hoeveel peule mense reken daar op die plante is. “Party skat hoog, ander skat weer laag. Diegene wat verlede jaar se kompetisie gevolg het, skat op hierdie oomblik nog bietjie hoog, aangesien die plant vanjaar so ’n maand te laat aangeplant is en die grondtemperature nie ideaal was nie. Dit gaan beslis ’n rol speel in vanjaar se opbrengs,” sê Bester.
Die sojaboonplant sal nou vir ’n maand gedroog word waarna die peule getel gaan word.
Wat sê ons lesers, hoeveel peule is daar op hierdie sojaboonplant?
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.