
Die jongste mielie-oes wat deur die nasionale oesskattingskomitee (NOK) met 298 miljoen ton (1,88) opwaarts aangepas is, word net oortref deur 2017 se rekordoes van 16,82 miljoen ton en 2021 se 16,32 miljoen ton.
Dr. Werner Rossouw, direkteur en handelaar van Silostrat, wys ook daarop dat dit nou die tweede beste opbrengs ooit is. Die landwye gemiddeld word geraam op 6,26 t/ha teenoor die rekord in 2017 toe 6,4 t/ha gestroop is. Die oes is 4,6% meer as verlede jaar se oes.
Volgens die NOK is die skatting vir witmielies 8,540 miljoen ton, wat 2,14% meer is as die vorige skatting, en in die geval van geelmielies is die skatting 7,648 miljoen ton, wat 1,59% hoër is as die vorige skatting.
In sy reaksie op die skatting sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, ’n oes van 16,1 miljoen ton beteken Suid-Afrika sal meer as genoeg mielies hê om in die plaaslike vraag van rofweg 11,4 miljoen ton te voorsien. Meer as 3 miljoen ton sal vir die uitvoermark beskikbaar wees.
Reën beïnvloed nie gehalte
Sihlobo sê boere is landwyd besig om somergewasse te oes en die onlangse reën het klaarblyklik nie die gehalte van gewasse beïnvloed nie. “Ons verwag ’n groot oes van hoëgehalte somergraan asook oliesade, wat goeie nuus vir verbruikers is. Daar behoort minder druk op pryse te wees en daar kan inflasie-verligting op graanprodukte in die voedselmandjie wees.”
Wat sojabone betref, is die skatting onveranderd gelaat op ’n rekordoes van 2,8 miljoen ton, wat 24% hoër is as ’n jaar gelede. Die opbrengs is nou net-net onder die 2,4 t/ha van verlede jaar, wat ’n rekord was. Die rekordoes is genoeg vir die plaaslike vraag, asook ’n verdere 300 000 ton vir die uitvoermark.
Sonneblom se skatting is onveranderd gelaat op 797 610 ton teen ’n opbrengs van 1,44 t/ha en volgens Rossouw is dit die vierde grootste opbrengs ooit en die tiende grootste oes tot dusver. Wat lewerings betref, sê hy teen 19 Mei is sowat 50% van die oesskatting se sonneblomme gelewer, die sojaboonlewerings het op 75% gestaan het en wat mielies betref was dit net onder 9%.
Grondbone, sorghum en droëbone
Volgens die NOK word die verwagte grondbone-oes nou op 51 510 ton geraam, wat 2,430 ton (4,95%) meer is as die vorige skatting. Die skatting vir sorghum is 104 700 ton, wat 2 480 (2,31%) minder is, en die skatting vir droëbone is opwaarts aangepas met 3,96% tot 48 560 ton.
Dit is nie net wat produksie betref waar die oesgroottes en opbrengste die rekords laat spat nie. Rossouw sê verbruiksyfers is ook pas bekend gemaak en in die bemarkingseisoen van 1 Mei 2022 tot 30 April 2023 het Suid-Afrika ’n rekord-mielieverbruik van 11,425 miljoen ton gehad, wat die grootste binnelandse verbruik ooit was.
“Dit is die vierde keer dat ons die 11 miljoen ton-kerf oorskry en die vorige grootste binnelandse verbruik was twee seisoene gelede toe ons 11,306 miljoen ton verbruik het. Die nuwe rekord is gunstig omdat dit wys dat die verbruiksyfer goed bly ondank die relatief hoë prysvlakke in hierdie stadium.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.