
Ingevolge die huidige regulasies word graanprodusente benadeel omdat die gradering (en pryse) laer is as die betrokke besending gevlekte of waterbeskadigde pitte bevat.
Navorsing deur die SA Graanlaboratorium het bewys dat dié soort pitte geen noemenswaardige invloed op maalgehalte het nie en ook geen risiko vir menslike of dierlike voedselverbruik inhou nie, beklemtoon dr. Dirk Strydom, hoof van bemarking, Nampo en navorsingskoördinering by Graan SA.
“Daarom het ons die voorstel ingedien dat ons ’n verandering in ons gradering aanbring. As die wetenskap bewys daardie pit se meel is nog op standaard, is daar geen wetenskaplike rede om die pit uit te gooi nie,” sê Strydom.
Die oorspronklike aansoek is deur die mielieforum, bestaande uit Graan SA, meulenaars, veevoervervaardigers, graanhandelaars en graanopbergingsbesighede, ingedien. Die proses om na ’n regverdiger en kommersieel regverdigbare graderingstelsel te kyk en die regering te vra om nuwe regulasies daaroor in te stel, is al ’n paar jaar aan die gang.
Dit het egter in ’n doodloopstraat beland toe die Meulenaarskamer en die veevoervervaardigers hul voorbehoude oor die agteruitgang in die gehalte van die mielies uitgespreek het. Die proses om die regulasies te verander, was toe reeds baie ver gevorder.
Volgens mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, was die nuwe regulasies reeds in die Staatskoerant afgekondig toe die besware vanuit die bedryf self geoppper is, wat veronderstel was om eenstemmig as ’n bedryf die versoek om verandering te rig.
“Wat die maalbedryf nou reggekry het, is om ’n groter persentasie van hul aankope teen ’n laer prys te kry. Dis die maalbedryf wat die inkonsekwentheid van die gradering veroorsaak. Ons kan nie so voortgaan nie en hierdie oplossing moet deur die hele bedryf deurgetrap word.”
Hy sê die Meulenaarskamer kon nie enige navorsing indien nie wat sy standpunt staaf dat die meel se gehalte nadelig beïnvloed word deur gekleurde of waterbeskadigde pitte. “Onthou, ons praat nie van pitte wat in water gestaan het of waaruit water geloog het nie, dis net gevlek deur water.”
Intussen, sê Strydom, gaan produsente nou self die aansoek vir verandering in die graderingstelsel instel aangesien die bedryf as geheel nie die aansoek kon indien nie. “Ons wil vra dat die staat die verandering aan die regulasies vanuit ’n produsente-perspektief in ag neem.”
Strydom sê die aansoek moet nou deur die regulatoriese proses gaan om seker te maak dat die verandering kan plaasvind, maar dis moeilik om te sê hoe lank dit gaan duur. “Omdat dit presies dieselfde aansoek is wat ons voorheen as bedryf ingedien het en toe eers weer teruggetrek het, sal dit dalk vinniger wees. As dit egter as ’n volwaardige nuwe aansoek beskou word, sal dit eers in ’n kommentaarperiode ingaan en en weer verwerk word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.