
Dr. Alba du Toit, senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling, sê mielies word wêreldwyd beskou as een van die belangrikste landbouprodukte en dien in verskeie lande as stapelvoedsel. Daar word beraam dat die vraag na mielies in ontwikkelende lande teen 2050 sal verdubbel en dat dit die gewas met die hoogste globale produksie sal word.
Sy meen dat die doeltreffende gebruik van graan soos mielies voedselonsekerheid en wanvoeding kan verminder.
Verlede jaar het die departement hande met Graan SA geneem vir ’n projek om innoverende voedselprodukte vir die land se lae-inkomstegemeenskappe te ontwikkel en sodoende voedselsekerheid en werkskepping te bevorder. Om dit te behaal, het ’n groep wetenskaplikes ’n nuwe verwerkingsmetode vir mielies, nikstamalisasie, oorweeg.
Dié metode behels dat gedroogde mieliepitte oornag gekook en geweek word in kalkwater waarna dit gewas en geskil word. Die kook- en weekproses versag die pitte se buitenste omhulsel sodat dit maklik van die pitte loskom en afgewas kan word. Die produk hiervan heet nikstamal.
Die nikstamal kan dan gemaal word tot ’n sagte mieliedeeg, oftewel masa. Dit kan ook grof gemaal word om nat masakrummels te maak wat in die oond gedroog word. Die gedroogde krummels kan dan gemaal word tot ’n verfynde meel wat soos gewone mieliemeel gebruik kan word.
Een van die voordele van nikstamalisasie is dat dit aflatoksiene wat lewerskade en selfs kanker kan veroorsaak, volkome verwyder. Dit verhoog ook die voedingswaarde van mielies en voorkom wanvoeding, veral pellagra. Die styselkorrels is makliker om te verteer en te verwerk. Die geur word ook verbeter.
Volgens Du Toit kan enige gereg wat met gewone mieliemeel gemaak word, ook met genikstamaliseerde mieliemeel gemaak word.
Maatskaplik-ekonomiese voordele
Du Toit sê nikstamalisasie skep ’n geleentheid om vroue te bemagtig wat hul eie besighede wil begin. Sy meen dat opleiding en produkontwikkeling, asook die ontwikkeling van besigheidsmodelle, verskeie maatskaplik-ekonomiese kwessies en voedselonsekerheid in lae-inkomstegemeenskappe kan oplos.
Die departement se PhD- en meesterstudente het resepte en produkte ontwikkel wat maklik vervaardig, verpak en bemark kan word deur vroue in lae-inkomstegemeenskappe. In Augustus 2021 het ’n resepteboekie met 20 resepte die lig gesien. Vroue kan die gereedskap tot hul beskikking soos ’n koffiebeker as maatkoppie of ’n bottel as koekroller gebruik om die produkte te vervaardig.
Du Toit sê potensiële entrepreneurs sal gedurende die finale stadium van die projek geïdentifiseer word. Dié entrepreneurs sal dan die nodige steun ontvang om hul eie besighede te begin. Daar sal later bepaal word watter van dié besighede volwaardige kommersiële en ekonomies lewensvatbare eenhede kan word.